Manie bly wedstrydwenner

Manie Libbok. (Foto: Rodger Bosch/AFP.)

Manie Libbok het dalk met sy stelskoppligte tydens die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk gesukkel, maar dit is ʼn feit dat die 26-jarige losskakel oor die vermoë beskik om wedstryde vir sy span te wen.

Ongeag of hy in die groen en goud van die Springbokke of die blou en wit van die Stormers te siene is.

En al stik pa soms aan sy koffie (of dalk iets sterker) wanneer die Kapenaar se skopradar op ʼn dag nie té mooi ingestel is nie, is hy ook ʼn gunsteling by Suid-Afrikaanse rugbyliefhebbers.

Libbok is tydens SA Rugby (Saru) se toekenningsgeleentheid in Johannesburg as plaaslike ondersteuners se Verenigde Rugbykampioenskap (VRK)-speler van die jaar aangewys.

“Daar is so baie topspelers in ons land met wie ʼn mens om dié spesiale toekenning meeding en dit is vir my ʼn baie groot eer en voorreg dat daar uiteindelik op my besluit is,” het Libbok aan joernaliste gesê.

Hy het vroeër vanjaar sy 50ste wedstryd vir die Stormers gespeel en dit is juis sy aanvallende vaardighede wat die Kapenaars se spel soos ʼn handskoen pas.

Kyk byvoorbeeld na Saterdagaand se kragmeting teen Ulster op die DHL-stadion.

Ja, hy het met sy eerste paar stelskoppogings skeef gekorrel, maar daar was nie veel fout met sy balverspreiding nie en sy skoppe kantlyn toe was gereeld in die kol.

Daarbenewens het hy ook met sy skopkelkiepligte uitgeblink toe die drukkoker op sy warmste in die tweede helfte was.

Opposisie-afrigters erken gereeld dat Libbok se dartellopies en vindingryke spel gereeld hul spanne onder druk plaas wanneer daar teen die Stormers gespeel word.

John Dobson het ook al voorheen genoem dat hy sy opportunistiese no. 10-speler bó ʼn meer betroubare losskakel verkies.

“Ja, hy het nou foute gemaak, maar goeiste, hy laat beslis dinge op die veld gebeur en dit is baie belangrik in ʼn rugbywedstryd,” het die Stormers-afrigter verlede jaar gesê nadat Libbok en kie die Sharks op Kingspark ore aangesit het.

“Dit is seker veiliger om  ʼn meer robotagtige no. 10-speler te kies, maar vir die tipe spel wat ons wil opdis is Manie ongetwyfeld die regte persoon vir die pos.”

Manie Libbok vier ’n drie in die Stormers-trui. (Foto: Hansie Linde)

Die Stormers is tans vyfde op die amptelike VRK-punteleer, terwyl hulle ook nie te sleg in die Kampioenebeker vaar nie.

“Daar wag nou ʼn paar taai uitdagings op ons en ons moet probeer om elke liewe wedstryd te wen,” het Libbok by die Saru-geselligheid gesê toe hy oor die res van die Stormers-seisoen gepols is.

“Ons gaan op een wedstryd op ʼn slag konsentreer om vir onsself die beste geleentheid te gee om verder in die toernooie te vorder.”

Wanneer alles volgens plan verloop is Manie Libbok die Stormers se koning Midas – ʼn speler wat dinge in goud op die veld kan laat verander.

ʼn Mens moet net oukei wees as dit nie met elke skop, aangee of duikslag gebeur nie. Want nes al die ander sterlosskakels soos Handré Pollard, Jonny Wilkinson, Dan Carter en Johan Goosen is hy ook maar net ʼn mens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.