Manie pure (Lib)Bok teen Sharks

Manie Libbok. Foto: Hansie Linde.

Meeste leunstoel-rugbykenners sal saamstem dat Manie Libbok se spel een van die grootste verskille tussen die Stormers en die Sharks op Kingspark was.

Die Kapenaars het uiteindelik ses drieë gedruk om die Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd met 46 – 19 te wen.

Daar is tans min dinge so mooi in Suid-Afrikaanse rugby as die Stormers-agterlyn op volle vaart en Libbok verskaf dikwels die vonk wat die Kapenaars se driedruk-kruitvat benodig. Hy het gister nie net die spel vanuit sy losskakel-posisie dikteer nie, maar hy was ook baie goed op die aanval.

Hy het 14 punte met sy skopvoet aangeteken, ʼn drie van sy eie gedruk en ʼn sleutelrol in Herschel Jantjies se drie gespeel.

Ja-nee, Libbok sorg beslis dat die Kaap tans Hollands bly.

Volgens John Dobson was die aanvanklike plan dat die 25-jarige agterspeler ʼn blaaskans vir die Sharks-wedstryd moes kry, maar toe doen Jean-Luc du Plessis ʼn besering op teen Ulster en die Stormers moes noodgedwonge weer op sy knoppie druk.

“Ons moet seker ʼn bietjie meer losskakel-diepte bou; ons kan nie die heeltyd op Manie staatmaak nie.

“Ja, hy het nou foute gemaak, maar goeiste, hy laat beslis dinge op die veld gebeur en dit is baie belangrik in ʼn rugbywedstryd. Dit is seker veiliger om  ʼn meer robotagtige nommertienspeler te kies, maar vir die tipe spel wat ons wil opdis is Manie ongetwyfeld die regte persoon vir die pos,” het die Stormers-breier gesê.

Libbok het verlede jaar sy internasionale buiging teen Frankryk in Marseille gemaak, terwyl hy ook teen Italië sy kreatiewe stempel op die Springbokke afgedruk het.

“Manie word net beter en ons is opgewonde om te sien wat hy kan doen,” het Jacques Nienaber (Springbok-afrigter) destyds gesê.

Tom Shanklin – die voormalige Walliese ster – het juis voorspel dat die Suid-Afrikaners meer kreatief sal speel wanneer die jong Kapenaar op die veld is.

En tans lyk dit asof daardie voorspelling ʼn werklikheid word.

  • VRK-punteleer:
  1. Leinster: 61 punte ná 13 wedstryde
  2. Stormers: 50 punte ná 13 wedstryde
  3. Ulster: 43 punte ná 12 wedstryde
  4. Bulls: 40 punte ná 13 wedstryde
  5. Glasgow Warriors: 39 punte ná 12 wedstryde
  6. Munster: 37 punte ná 13 wedstryde
  7. Benetton: 34 punte ná 13 wedstryde
  8. Sharks: 33 punte ná 12 wedstryde
  9. Edinburgh: 31 punte ná 13 wedstryde
  10. Connacht: 30 punte ná 13 wedstryde
  11. Cardiff: 29 punte ná 13 wedstryde
  12. Ospreys: 29 punte ná 13 wedstryde
  13. Lions: 24 punte ná 12 wedstryde
  14. Scarlets: 22 punte ná 13 wedstryde
  15. Dragons: 18 punte ná 13 wedstryde
  16. Zebre: 7 punte ná 13 wedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.