Minister, daar ís rugbymuseums

Ellispark-rugbymuseum (Foto inyourpocket.com)

Ellispark-rugbymuseum (Foto inyourpocket.com)

Fikile Mbalula, die minister van sport en ontspanning, was die afgelope paar dae, soos gewoonlik, baie bedrywig op twitter en kon nie uitgepraat raak oor sy besoek aan Camp Nou in Barcelona nie.

Dit is die tuiste van Barcelona se sokkerspan en meer as 99 000 toeskouers (insluitende die minister) was daar om die twee Spaanse sokkerreuse, Barcelona en Real Madrid, in die La Liga in aksie te sien.

Dít terwyl rugby een van sy grootste krisisse beleef en een van sy swakste jare op die veld deurgemaak het.

Dit was eintlik ʼn bedekte seën dat die minister sy neus uit rugby se sake gehou het en dat hy nie in die parlement was om vrae oor sport, en veral rugby, te beantwoord nie; en ook dat hy nie in Londen (Twickenham), Florence in Italië en in Cardiff was om die Bok-ondersteuners kasterolie saam met die pakke slae te gee nie.

Die minister het liries geraak oor die museum by Camp Nou en het voorgestel dat Suid-Afrikaanse sportstadiums in Barcelona se voetspore moet volg.

Was hy al op Ellispark in die rugbymuseum? Al daardie rugbytruie, van hier af en oorsee, Springbok- en ander baadjies, ou leerballe, trofeë en honderde nostalgiese rugbyfoto’s en aandenkings.

Wat van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se unieke interaktiewe museum by die Waterfront in Kaapstad?  Dit word jaarlikse deur duisende toeriste besoek en kry allerweë die regmerkie, ook van nie-rugbyondersteuners.

Wat het die minister in gedagte. Wil hy museums oprig op Loftus Versfeld, daar waar Mamelodi Sundowns van sy wedstryde speel? Die Vrystaatse stadion, waar Bloemfontein Celtic so nou en dan speel?

Wat van die wit olifante in Polokwane, Nelson Mandelabaai en Mbombela?

Ja, die FNB-stadion,die Orlando-stadion en die Moses Mabhida-stadion in Durban kon dit lankal gedoen het. Maar moes dit nie al jare gelede op aanbeveling van die minister tot stand gekom het nie, veral voor 2010 se Wêreldbeker-sokkertoernooi nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

callie ·

SA het regtig n groot rugby museum baie nodig. Met wat hier aangaan met so n minister gaan dit die einde van rugby in SA teweeg bring. Kan enige iemand daaraan dink dat die volgende geslag se kinders hul ouers sal vra om nie vir hul vriende te vertel hul oupa was n springbok rugby speler nie. Hulle sal die skande voor hul maats nie oorleef nie, want almal sal net die laaste tyd se uitslae en vernederings onthou.
Minister loop net saam met AC, kry die regte mense in plek en spaar ons rugby liefhebbers bogenoemde vernedering

Waghond ·

Tipies. Terwyl die Springbok tot niet gaan, word daar oorsee nogal, rondgerits op die belastingbetaler se geld. Wonder of hy dit sou doen indien hy dit self mors betaal?

Herman Goosen ·

Geagte Fikile,

Dit sal ‘n goeie idee wees om die glorieryke dae van SA Rugby te bewaar en te bewonder. Ons weet egter dat jy geensins die bedoeling het om dit te doen nie maar bloot ‘n uitstalling sal organiseer wat klein groepies gaan wys wat in transformasie plaasgevind het en dit prober regverdig sonder om die rampspoedige uitslag daarvan in te sluit. En na 10 jaar sal dit steeds nie die uitgawe daaraan spandeer dek nie. Nie dat dit enigsins die doelwit in elk geval is nie. Doen eerder jou werk en konsentreer op die basiese as om idees in te win hoe om die land se geld te mors om jou beter te laat lyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.