Mo’unga sê dis ‘cool’ om teen Sexton te speel

Johnny Sexton. (Foto: Paul Faith/AFP)

Rugby is weliswaar ʼn spansport, maar Nieu-Seeland en Ierland beskik oor genoeg individuele sterre om ook vir ʼn paar watertand tweestryde te sorg wanneer hulle Saterdag in ʼn Wêreldbeker-kwarteindstryd in Parys teen mekaar speel.

Dink aan Aaron Smith teen Jamison Gibson-Park, of Ardie Savea teen Josh van der Flier. Maar die losskakel-geveg tussen Richie Mo’unga en Johnny Sexton is waarskynlik die een waarna rugbyliefhebbers die meeste uitsien.

Die 29-jarige Mo’unga het hom as een van wêreldrugby se beste spelers gevestig, terwyl die ervare Sexton al die truuks in die rugbytoorboek ken.

“Johnny is pure klas. Hy is die ware spelleier van sy span en hy het ʼn sê in min of meer alles wat op die veld gebeur,” het die Nieu-Seelandse losskakel gesê.

Die Crusaders-ster het die amper 40-jarige Sexton se bestendigheid as merkwaardig beskryf; dit sit nie in enige speler se broek om vir soveel jare toprugby te speel nie.

“Dit is nie net ʼn voorreg om teen hom te speel nie, maar dit is ook baie cool. Dit is opwindend, veral vir iemand wat sy rugby in ʼn ander halfrond speel.”

In Frankryk het Sexton reeds 51 punte vir sy span aangeteken, terwyl Mo’unga vir 36 All Black-punte verantwoordelik was.

Volgens die Kiwi-losskakel is dit deesdae ʼn taai uitdaging om teen Ierland te speel.

“Ons voorspelers sal die bal met momentum moet dra, terwyl ons dinge vinnig by die afbreekpunte moet maak. Die belangrikste is egter om die basiese dinge reg doen; hopelik kan ons hulle só onder druk plaas.”

Die wedstryd begin Saterdag om 21:00 en dit word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

All Blacks: Beauden Barrett (heelagter), Will Jordan (regtervleuel), Rieko Ioane (buitesenter), Jordie Barrett (binnesenter), Leicester Fainga’anuku (linkervleuel), Richie Mo’unga (losskakel), Aaron Smith (skrumskakel), Ardie Savea (agtsteman), Sam Cane (kaptein en flank), Shannon Frizell (flank), Scott Barrett (slot), Brodie Retallick (slot), Tyrel Lomax (stut), Codie Taylor (haker) en Ethan de Groot (stut). Plaasvervangers: Dane Coles, Tamaiti Williams, Fletcher Newell, Sam Whitelock, Dalton Papali’i, Finlay Christie, Damian McKenzie en Anton Lienert-Brown.

Ierland: Hugo Keenan (heelagter), Mack Hansen (regtervleuel), Garry Ringrose (buitesenter), Bundee Aki (binnesenter), James Lowe (linkervleuel), Johnny Sexton (kaptein en losskakel), Jamison Gibson-Park (skrumskakel), Caelan Doris (agtsteman), Josh van der Flier (flank), Peter O’Mahony (flank), Tadgh Beirne (slot), Tadgh Furlong (stut), Dan Sheehan (haker) en Andrew Porter (stut). Plaasvervangers: Ronan Kelleher, Dave Kilcoyne, Finlay Bealham, Joe McCarthy, Jack Conan, Conor Murray, Jack Crowley en Jimmy O’Brien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Dis 2 gedugte spanne. So jammer dat hul mekaar nou so vroeg al pak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.