Mylpaal wink vir Manie in Parys

Manie Libbok is gereed om ’n verskil in sy 50ste wedstryd vir die Stormers te maak. (Foto: Hansie Linde)

ʼn Vyftigste wedstryd wink Saterdag vir Manie Libbok in Parys wanneer die Kapenaars met Stade Francais in ʼn Kampioenebeker-wedstryd kragte meet.

Die 26-jarige losskakel het reeds sy stempel op die jongste weergawe van die toernooi afgedruk; soos wat sy komkommerkoel strafskoppoging teen La Rochelle en die stewige vertoning teen die Sale Sharks getuig.

Nou is hy oorgehaal om nog ʼn kolligvertoning in die “Stad van lig” te lewer; die plek waar die Springbokke nie te lank gelede nie die Webb Ellis-trofee vir die vierde keer omhoog gehou het.

Warm gaan dit beslis nie wees nie: Volgens die weerprofete kan die kwik tot -2 °C daal.

“Ja, dit is natuurlik ʼn uitdaging om in die koue te speel en dit is beslis iets om aan gewoond te raak. Ek dink wel dit was -4 °C toe ons verlede jaar teen Clermont gespeel het. Ons het toe beslis waardevolle lesse geleer,” het Libbok gesê.

“Dit is lekker om terug in Parys te wees. Ek weet ons speel nie in dieselfde stadion [as tydens die Bokke se Wêreldbeker-triomf nie], maar ek sien daarna uit om weer hier in aksie te wees; veral teen ʼn goeie Franse klubspan.”

Die Stormers wen deesdae nie sommer ʼn rugbywedstryd in Europa nie en die Springbok-losskakel is oorgehaal om sy beste vir die span te lewer.

Libbok se aanvallende vaardighede pas die Kapenaars se spelpatroon soos ʼn handskoen en saam met Leolin Zas en Damian Willemse laat die span gereeld sy teenstanders na boegoebrandewyn gryp.

Hulle moet egter nou ʼn stewige vertoning in ʼn koue Parys opdis.

“Ons wil niks in die tenk oorlaat nie. Ek glo in hierdie groep spelers en ons volle aandag is op die komende wedstryd. As ons die klein dingetjies op die veld reg doen, glo ek dat die uitslag ook in ons guns sal wees.”

  • Bepalings:

Kampioenebeker:

Saterdag:

15:00: Bulls teen Bordeaux op Loftus Versfeld

19:30: Stade Francais teen Stormers op die Stade Jean-Bouin

Europese Uitdaagbeker:

Saterdag:

17:15: Oyonnax teen Cheetahs

Sondag:

15:00: Lions teen Ospreys

19:30: Dragons teen Sharks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.