Nienaber het antwoorde

Die Springbokke het die tweede toets teen Wallis met 13 – 12 verloor. Foto: GB Jordaan.

Dit lyk nie asof Deon Fourie die tipe mens is wat doekies sal omdraai wanneer hy met jou oor rugby praat nie.

Die 35-jarige flank van die Stormers het Saterdag die oudste speler nóg geword om sy Springbok-buiging te maak toe hy in die tweede helfte sy verskyning teen Wallis in Bloemfontein gemaak het.

Hy het met ’n paar goeie lopies beïndruk, terwyl hy ook ’n keer of wat vir ’n stewige vertoning by die afbreekpunte gesorg het.

Maar Josh Adams se drie en Gareth Anscombe se daaropvolgende doelskop het beteken dat die Rooi Drake die toets met 13 – 12 gewen het; hul heel eerste oorwinning in Suid-Afrika.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring om my toetsbuiging te maak, maar dit was nie die uitslag waarvoor ons gewerk het nie. Ek sal die dag egter vir altyd onthou,” het Fourie gesê.

Hoewel die Springbokke vir ’n groot deel van die wedstryd die gebiedsvoordeel- en balbesitstatistiek oorheers het, kon hulle net nie die uitklophou plant nie.

“Die uitslag was teleurstellend, maar dit was ons eie skuld. Ons het goeie geleenthede geskep om punte aan te teken, maar ons het foute gemaak en op die ou einde was dit ons wat die wedstryd verloor het.”

Die derde toets in Kaapstad geniet nou eindstrydstatus en Wallis het ’n definitiewe kans om die reeks te beklink.

Jacques Nienaber (Springbok-afrigter) het intussen sy spankeuse verdedig, terwyl hy ook aangevoer het dat hy nou antwoorde op sy vrae het.

Jacques Nienaber (Foto: Phill Magakoe/AFP)

“Ons kon die konserwatiewe roete (wat spankeuse betref) gevolg het, maar veronderstel ons het ook verloor, dan sou ons waarskynlik nooit vir die ander spelers in die groep ’n geleentheid gegee het nie. Nou het ons antwoorde op 42 spelers gekry en dit was nog altyd die plan,” het Nienaber gesê.

Die Springbok-bestuur het 14 veranderinge aan die beginspan aangebring, met net Eben Etzebeth wat in al twee toetse in die opdrafspan was.

“Ons het ouens gehad wat in hul eerste toets gespeel het; spelers wat met hul spelpeil in verskillende toernooie beïndruk het. In toetsrugby kan selfs die kleinste foutjie egter die verskil tussen wen en verloor wees en dit is goed dat ons almal hierdie les geleer het.”

Die derde toets word Saterdag vanaf 17:05 op die DHL-stadion in Kaapstad beslis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Steyn ·

Verskoon my, maar dalk bietjie nuwe taktiek ook weer probeer? Help nie jy bly verander maar probleem bly die selfde nie! Almal lees SA rugby soos n boek,

piet ·

Vergeet maar van nuwe taktiek. Maak gereed vir nog broekskeur-resultate met hulle benadering.

Manie ·

Die voory het my vir die grootste deel van die wedstryd nie beiindruk nie. Dweba se ingooiwerk is nog nie op standaard nie. Dan het Jaden Hendrikse te stadig skoongemaak, Andre Esterhuizen het nie spel geskep op binnesenter nie, en die algehele samespel was nie daar nie. Die Noordelike halfrond spanne neem elke strafskop punt wat op die tafel is, terwyl ons ‘n paar keer op Wallis se doellyn was en niks kon uitrig nie. Ons moes na my mening egter ‘n skrum strafskop van die laaste skrum gekry het. Baie min 2de keuse spelers het werklik hulle hande opgesteek.

B-Man ·

Stem saam. Waar is Jan Serfontein? Strate beter as enige binnesenter wat ons tans het in SA

Frank ·

En wat sê julle van Willemse (???) se try-saving tackle………

Leon ·

Het antwoorde ??? Dalk probeer om meer respek vir die nasionale volkslied te he deur nie met n “keps” op die kop te staan terwyl volksliec gespeel word nie. Dit is deur miljoene kykers raakgesien. Geen self respek

Kobus ·

Nienaber het net een spel patroon. Nege skop doelloos of senter gaan dood met bal. Dan strafskop teen ons agv bal wat houvas word of voorspelers wat oorval. Dan wil elke speler ‘n drie druk. Galant het geen visie nie.

Hennie ·

Ek het ook antwoorde gekry na hierdie nederlaag, soos om nie weer 2 ure van my tyd te mors volgende saterdag nie.

SjN ·

Mnr Nienaber, jou probleem is die doellose skoppe deur nr 9 wat volgens jou opdrag dit doen, te veel voorspelers in die lyn, wanneer laas was daar n ten volle agterlyn beweging? Terlopops, Dit is hoe driee gedruk word.

Michael ·

Jy gee nie spelers ‘n geleentheid om in ‘n Toets wedstryd te speel nie, jy kies jou Beste spelers vir die dag ! ‘n Toets wedstryd is nie proewe nie!

Anthony ·

Ons het ook nie baie indrukwekkend gelyk onder die hoe balle nie

JohanR ·

Dit was ‘n SA-A span. Moes Wallis nie met ten minste 20 punte gewen het nie? Maar ek glo Saterdag is die beste 23 op die veld en ek weet dit gaan Saterdag vir Wallis moelik gaan. Maar…..2023 is die wereld beker en daar word gese jy verloor die stryd, om die oorlog te wen. Nienaber weet nou na Saterdag wat hy het en nie het nie.

annie ·

Ongelukkig ruik ons steeds Rassie se Boss-parfuum aan Nienaber (sg Springbokafrigter). Onkundig oor rugby kon mens darem agterkom dat ons terug is by Rassie se geliefde American football… Een man stoot voorentoe… val vas… verloor die bal… Gryp ‘n man halfhartig om die nek tot hy stik… Gryp die bal en storm weer voortoe… Soos plain, purl, plain pynigend. En dan het ons uiteindelik die uitslag na die enigste span met ‘n agterlyn, Wallis, sy agterlyn laat loop… En wen. Nienaber moet waai en Rassie ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.