Nienaber meen Bokke was goed, maar kan beter

Pure Springbok-passie. Jesse Kriel ná een van sy drieë teen Wallis. (Foto: Simon King/ProSportImages/DPPI via AFP)

Die Springbokke het Saterdagmiddag agt drieë teen ʼn gelapte Rooidraak-span gedruk om die Wêreldbeker-opwarmingswedstryd in Cardiff op ʼn drafstap met 52 – 16 te beklink.

Die Suid-Afrikaners het die kragmeting met 36 punte gewen; hul grootste oorwinning nog teen Wallis.

Jacques Nienaber meen egter dat die Bokke selfs beter sal moet speel as hulle ʼn wesenlike kans wil staan om hul Wêreldbeker-titel in Frankryk te verdedig.

Die Suid-Afrikaners is in ʼn baie moeilike groep saam met spanne soos Ierland, Skotland en Tonga ingedeel en die Springbok-afrigter meen dat elke kragmeting ʼn uitklopwedstryd in eie reg kan wees.

“Ons sal beter in Frankryk moet wees. Ons groepindeling beteken dat die eerste wedstryd al as’t ware ʼn uitklopkragmeting is. Ons sal op alle suiers moet vuur net om uit die groepfase te kom,” het Nienaber gesê.

“Teen hierdie tyd weet almal dat ons daarna streef om ons titel suksesvol te verdedig. Ons wil die tweede span word [naas Nieu-Seeland] om dié prestasie te vermag en ons wil ook die eerste span word om vier keer die Webb Ellis-trofee omhoog te hou.”

Volgens Nienaber klink die pad na sukses eintlik so eenvoudig: Die Bokke móét beter speel.

Daar is ondersteuners wat meen dat die Springbokke ’n tree in die regte rigting teen Wallis gegee het, maar die Rooi Drake het ’n onervare groep spelers vir die Cardiff-stryd gekies.

“Dit was amper soos wat ons verlede jaar teen hulle in Bloemfontein gemaak het; hulle wou waarskynlik sien wat in hulle jonger spelers steek. Ons het geweet dat ’n desperate speler teen ’n Siya Kolisi wou kragte meet en dit is presies wat ons gekry het.”

Nienaber meen dat Wallis veral in die eerste 20 minute van die wedstryd daarin kon slaag om die Springbokke met hul goeie taktiese skopwerk onder druk te plaas. Daarna het die Suid-Afrikaners doodeenvoudig na ’n hoër rat geskuif en die driedrukkrane oopgedraai.

Warren Gatland kondig Maandag die span aan wat Wallis by die Wêreldbeker-skouspel sal verteenwoordig. Hy het egter erken dat die Springbokke nou sy spelers oordonder het.

“Dit was baie teleurstellend, maar ek glo dat daar oplossings is. As ’n mens na die wedstryd terugkyk, is dit eintlik maklik om van hul driedrukpogings te keer; as ons daarmee suksesvol was, kon die wedstrydsituasie dalk anders gelyk het,” het die Wallis-afrigter gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Fran ·

Niks te sê dat ons glad nie ‘n betroubare skopper in die span het nie? Hoor my lied, dit gaan ons inhaal en dit gaan bitter wees.

piet ·

Kaptein Kolisi was soos ‘n vars briesie wat deur ‘n half-dooie vuurtjie waai. Skielik was die Bokkies vuur en vlam. Wat ‘n speler en kaptein. Libbok se algemene spel is goed maar sy stelskopwerk is ‘n groot issue, dit gaan die Bokke kos in taai wedstryde. Was effens terleurgesteld met Moodie. Gedink hy is ‘n beter verdediger en ook beter met die hoe bal. Ek sal weer vir Mapimpi terugbring wat goed is onder die hoe bal en ‘n goeie aanvaller is. Ons kan net een kort mannetjie (Kolbe) onder die agterste 3 bekostig. O ja, was beindruk met die Williams outjie op skrumskskel, lewendige en baie atleties (kan ongelukkig nie dieselfde se van Hendrikse nie alhoewel hy niks verkeerd gedoen het nie). Hierdie Williams-outjie kan ‘n impak maak dink ek.

kragaap ·

Dit was Wallis se B/C span. So al die bokke het goed gelyk. Moni was power weer te veel skoppe gemis. Moodie was brilliant, sy verdediging was puik en hy weet presies waar die doellyn is. Baie beter as die kort vleueltjie. Kaptein K het 4 tackles gemaak waarvan een ‘n sekere drie gestop het. Halftyd bankie toe soos voorspel. Vyf uit tien op sy beste. Bomb squad was die vars briesie, toe hul opkom en die saamdrawwers bankie toe is toe word die krane oopgedraai.

Frank ·

Hoekom het NIEMAND, maar NIEMAND ‘n woord te sê oor ons nommer 10 nie??? In ‘n wedstryd waar ons so oorheers het, moes hy GEWELDIG goed vertoon het, maar het nie eers amper nie. En nou praat ek nie van sy stelskopwerk nie. Ek praat nou nie van die up and under in sy EIE kwartgebied nie, lynskoppe ens ens.
Mense, ons het ‘n reuse probleem op daai posisie

kragaap ·

Stem saam hy was die swakste speler in ‘n maklike wedstryd. Oordeel swak, pale toe nog erger.

Boer ·

Rassie is ‘n afrigter, hy sal weer met ‘n trick of twee vorendag kom en die bokke sal weer die wêreldbeker wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.