Nyakane wil speelkans met albei hande aangryp

Die Sprinbokke se Trevor Nyakane. (Foto: Juan Gasparini/AFP.)

Die dae toe ʼn mens dit nog kon bekostig om Argentinië op ʼn rugbyveld te onderskat is lank reeds verby.

“Argentinië kan jou onder hewige druk plaas en hulle weier doodeenvoudig net om te gaan lê – selfs wanneer die ander span sterker vertoon,” het Trevor Nyakane gesê.

Volgens die Springbok is hy oorgehaal om Saterdag sy man teen die Argentynse voorry op Ellispark te staan.

As die 34-jarige stut sy verskyning op die veld maak, sal dit sy eerste internasionale toets van 2023 wees. Hy is saam met spelers soos Bongi Mbonambi en Vincent Koch op die Suid-Afrikaners se plaasvervangersbank ingesluit.

“Dit is nou al ʼn rukkie sedert ek die Springbok-trui oor my kop getrek het en ek is baie opgewonde. Dit is altyd ʼn taai uitdaging om teen Argentinië te speel en hulle is hoegenaamd nie meer net ʼn span wat op sy fisieke aanslag steun nie. Tog moet jy veral op jou hoede in die skrum- en lynstaansituasie wees; hul spelers weet wat om te doen.”

Met Ox Nché op die krukkelys sal Nyakane beslis alles in die stryd werp om aan die Bok-keurders te bewys dat hy sy plek in die Wêreldbeker-span verdien.

“Elke speler wat die Groen-en-goud dra, wil sy hand opsteek en sy beste lewer. Terselfdertyd is die kompetisie onder die spelers groot, maar dit gaan nie net oor Trevor (of enige ander individuele speler) nie, dit gaan oor die span.”

Die Wêreldbeker-wenstut speel deesdae sy eersterangse rugby vir Racing92 en hy meen dat rugby in Frankryk ʼn gedaanteverwisseling ondergaan het.

“Die rugby daar is glad nie meer net stadig en fisiek nie, die spel is deesdae amper net so vinnig as wat die Superrugby-toernooi was. Maar in dieselfde asem staan hul fisieke spel vir niemand terug nie en dit is dikwels die spanne wat 13de of 14de op die punteleer is wat jou die hardste tref.”

Hy meen dat Tonga of Samoa met ʼn soortgelyke vertoning by die Wêreldbeker-toernooi vorendag kan kom.

“Ek dink trouens dat daar nie noodwendig iets soos ʼn swak Wêreldbeker-span is nie. Wedstryde teen lande wat laer op die punteleer is, kan brutaal wees. Hulle speel met moed en selfs as jy hulle sou klop, is jou lyf maar lekker seer ná die wedstryd.”

Die Springbokke se finale Rugbykampioenskap-wedstryd begin Saterdag om 17:05 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Video: Pieter Cloete.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ziggy ·

Trevor Nyakane is ‘n Stut en nie ‘n slot soos wat die berig se nie.

“Die Wêreldbeker-wenslot speel deesdae sy eersterangse rugby vir Racing92 en hy meen dat rugby in Frankryk ʼn gedaanteverwisseling ondergaan het.”

piet ·

Jy kan enige iets verwag van hierdie herderlose Bok-span sonder Kolisi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.