Ongelykhede maak Super18 ʼn klug

logo-sanzarGaan rugby, in sy noodwendige verskuiwing na die vermaaklikheidsbedryf, dieselfde paadjie loop as rofstoei wat gedegenereer het tot ʼn gewilde klug genaamd WWF?

Die vraag word in alle erns gevra wanneer ʼn mens die soveelste keer kyk na die ingewikkelde struktuur en onregverdige verdeling van die nuwe Super18-reeks wat op 26 Februarie afskop.

Rugby het, soos die ander groot sporte, verskuif van ʼn gewilde tydverdryf waar spelers en ondersteuners hulle kon uitleef, tot ʼn groot rolspeler in ʼn massiewe vermaaklikheidsbedryf waarin die voorste sportsoorte hulle nou bevind.

Dit gaan toenemend om geld. Toegegee, dit is wat nodig is om rugby wêreldwyd as sport uit te brei in ʼn bedryf wat ʼn hele klomp miljarde in enige geldeenheid beloop, as die omset van die hele wêreld se voorste spanne in aanmerking geneem word.

Geen stelsel is ooit sonder sy tekortkominge nie, maar in die geval van die Super18 sal die wenner nie met oortuiging kan sê dat hy noodwendig selfs net één van die heel bestes was nie.

Indeling van spanne –

Daar is 18 spanne. Hulle is in vier afdelings ingedeel. Elk sal 15 wedstryde speel.

Twee afdelings is van Australasië (onderskeidelik Nieu-Seeland en Australië) wat elk vyf spanne in hulle afdeling het.

Daar is ook die twee Afrika-afdelings, elk met net vier spanne. Ses van hierdie agt spanne is van Suid-Afrika met drie SA franchise’e wat in elk van  die afdelings ingedeel is. Die ander twee spanne is die Japan se Sunwolves en die Jaguares van Argentinië wat elk saam met drie SA spanne in ʼn afdeling is.

Die Afrika-afdelings is:
Afrika 1: Bulls, Cheetahs, Stormers, Sunwolves
Afrika 2: Lions, Sharks, Kings, Jaguars

Die wedstrydstruktuur –

Elke Suid-Afrikaanse span speel drie wedstryde tuis en drie weg in sy eie Afrika-afdeling, en nog vier – twee tuis, twee weg – teen die ander Afrika-afdeling se vier spanne. Dit gee ʼn totaal van tien wedstryde.

Elke span in die twee Afrika-afdelings sal dus in die tien wedstryde teen sewe verskillende spanne speel (die drie in hul eie afdeling en die vier in die ander Afrika-afdeling).

Elke span moet ook vyf wedstryde teen spanne van die twee Australasiese afdelings speel – twee weg en drie tuis in sommige gevalle, en drie weg en twee tuis by die ander.

Dus: elke span in  twee Afrika-afdelings sal net teen 12 van die 18 spanne in die reeks speel.

Afdeling 2 se spanne (die Sharks, die Southern Kings en die Lions) speel al vyf hul Australasiese wedstryde teen spanne van die Nieu-Seelandse groep. Dit is ʼn baie, baie moeiliker taak as die Bulls, Stormers, Cheetahs en Sunwolves wat teen vyf Australiese spanne speel.

Hoekom? Die boonste vier spanne van die Kiwi’s was verlede jaar onder die sewe voorste spanne op die Super15-punteleer met die Blues tweede laaste.

Die Aussies se vyf spanne, daarenteen, het verlede jaar net twee in die boonste sewe op die punteleer gehad. Die ander was 10de, 13de en 15de (heel laaste).

Maar as ʼn mens hierdie gebrek aan logika ignoreer, is daar nog die reeks as ʼn geheel. Dit is die ene kunsmatigheid – en natuurlik trek die Afrika-afdelings aan die korste ent.

Net drie van die agt spanne in die twee Afrika-afdelings gaan deur kwarteind toe teenoor vyf van die twee Australasiese afdelings. Toegegee, dit is darem ook ʼn geval van agt Afrika-spanne teenoor tien van Australasië.

Wat betref die twee Australasiese afdelings:

Elke span uit die Nieu-Seelandse groep speel twee wedstryde teen elk van twee ander Kiwi-spanne en een wedstryd elk teen die twee ander Nieu-Seelandse spanne, m.a.w. ses wedstryde. Benewens dié ses wedstryde is daar ook die vier teen spanne in die een afdeling van die Afrika-afdeling speel hulle ook een wedstryd teen elk van die vyf Australiese spanne.

Insgelyks speel elke Aussiespan twee wedstryde teen elk van twee ander Australiese spanne en een wedstryd elk teen die twee ander Australiese spanne, m.a.w. ses wedstryde.

Daar is dus in albei die Australasiese afdelings ook ʼn ongelykheid deurdat die onderskeie spanne se teenstand wissel.

Kwarteindwedstryde –

Die kwarteindspanne word soos volg bepaal:

Die wenners van elk van die vier afdelings gaan outomaties deur kwarteind toe.

Dan is daar weer ʼn belaglikheid, naamlik dat die span met die derde meeste ligapunte uit albei die Afrika-afdelings, ook kwalifiseer ongeag of hy dalk die oënskynlike swakker Australiese spanne as sy Australasiese teenstanders het teenoor die span in die ander Afrika-groep.

Benewens die twee wenners van die twee Australasiese afdelings sal die drie volgende spanne, uit albei die puntelere, die agttal vir die kwarteind voltooi.

Ranglyste en tuiswedstryde sal ook na gelang van die vier afdelings se ongelyke puntelere bepaal word.

Lekker pret oor 20 weke en op 44 dae. Maar is dié stelsel regtig wat ʼn mens wil hê?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Marko Miladinovic ·

Ek stem saam dis n klug. Ek wens so ons kan wegbreek van SANZAR af en weer begin konsintreer oo die Currie Beker. Ek weet dit sal nie gebeur nie want die TV en borge betaal die spelers se salaris maar aai. Ons rugby gaan agteruit in die kompitiesie.

Nico K ·

Ek stem saam. Die Curriebeker was vir my die reeks in SA wat die grootste aandag getrek het. Ek kon myself nog nie so lekker in die Superreekse inleef nie. Ek is baie jammer dat die Curriebeker nou so verlaag is.

Gerhard ·

As dit is wat gaan gebeur sou ek my span maar net motiveer om so veel moontlik wedstryde te wen om of dan ten minste bonuspunte te kry met elke wedstryd…wat presies die doel was in vorige Super kompetisies. Kom ons geniet net al die Rugby. Currie beker sal nooit vervlou nie, dit is nog steeds n’ top kompetisie na aanleiding van die spanningsvolle aanloop tot die eindstryde van die laaste 2 currie bekers (2014 & 2015) BlouBul Groete

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.