Onverskrokke Pumas wil dié naweek geskiedenis maak

Die Pumas hoop om weer vanjaar die Curriebeker omhoog te hou. (Foto: Alita Steenkamp)

Die geruis van ʼn reuseskare, motorfietse wat brul en tipiese stadionmusiek klink op toe ons deur die spelerstonnel stap. Vir ʼn oomblik verwag jy ʼn volgepakte stadion, soos verlede jaar met die All Blacks-toets, maar dit is bloot agtergrondgeluide wat oor die stadion se luidsprekers gespeel word; alles deel van die tegniek om die Puma-spelers voor te berei op die Curriebeker-eindstryd wat Saterdag op hulle wag wanneer hulle die Cheetahs in Bloemfontein takel.

Vir daardie oomblikke voor die afskop wanneer die Harley-motorfietse ook oor die veld aangebrul kom.

Wanneer ons deurstap, is ons binne die lieflike Mbombela-stadion met sy swart-en-wit sebrastrepe en kameelperdmaste. Vir ons die mooiste stadion in die land. Op die veld is daar ʼn see van spelers, geklee in die kenmerkende kersiepienk van die Airlink Pumas. Die balle word heen en weer aangegee. Dit is ʼn pypkan hier en ʼn wegswenk daar. Die manne op die veld het net een doel voor oë: om Saterdag die Curriebeker terug te bring na Nelspruit. Elders sak die manne in die skrum om skrumtegnieke te verfyn.

Op die kantlyn staan afrigter Jimmy Stonehouse die bedrywighede en betrag. ʼn Mens wonder wat gaan deur sy gemoed. Vir die tweede jaar agtereenvolgens is hierdie manhaftige span van hom in ʼn Curriebeker-eindstryd.

Op die veld by die spelers is MJ Mentz, die agterlynafrigter. Hy gee bevele, hou elke beweging dop en blaas soms die fluitjie om aan te dui dat ʼn volgende groep spelers moet aanmeld.

Duskant van die veld is Corne Steenkamp besig om lynstane saam met die voorspelers te oefen.

Hierdie span het sedert vanjaar se heel eerste Curriebeker-wedstryd gewys dat dit nie bloot net ʼn gelukskoot was wat gesorg het dat hulle verlede jaar die beker gewen het nie. Hulle het onder meer die Bulle op Loftus met 63-15 verneder.

Verlede week het hulle boonop die Sharks op dié se tuisveld pens en pootjies uit vanjaar se kompetisie geboender toe hulle die KwaZulu-Natallers met 26-20 in die halfeindstryd geklop het.

Jimmy lag wanneer ʼn mens hom vra oor sy span se kanse Saterdagmiddag.

Ja, Jimmy Stonehouse het altyd ‘n oomblik om ‘n handtekening aan ‘n geesdriftige ondersteuner uit te deel. (Foto: Verskaf)

“Jy moet onthou dit is ʼn finaal en enigiets kan gebeur. Om te wen moet alles in jou guns tel. Die skeidsregter moet die regte besluite neem, Thinus (de Beer) se skopvoet moet 100% wees, die bounce van die bal moet perfek wees.

“Al daardie kwessies is dinge wat jy nie kan beheer nie. Wat jy wél kan beheer, is in watter luim en met watter gesindheid jy gaan opdaag. Jy kan bepaal hoeveel druk jy op jou opponent gaan plaas. Tog dink ek die Cheetahs het meer druk op hulle as wat ons op ons het. Die Cheetahs speel ook in ʼn internasionale kompetisie, hulle het meer geld as ons, hulle het tuisveldvoordeel.

“Een ding wat ek nooit doen nie, is om die hele tyd oor wen te praat. Wat ek wel vir my manne sê, is dat ons ʼn kans het om te wen. Indien ons alles kan beheer wat ons kan beheer, dan is ons kans reeds 50% om te wen. Die dinge wat ons kan beheer, is soos om seker te maak ons kry die bal in die lynstaan met ons ingooie, ons aangee is keer op keer reg en presies, ons handhaaf goeie dissipline …

“Wat ek vir my span gaan vra, is om alles net een persent beter te doen as verlede week; dan het ons vir seker ʼn kans,” sê hy.

Een ding waarmee die Pumas vanjaar hul ondersteuners bederf het, is opwindende rugby.

Daar is niks vervelig aan hul spel nie en hier speel Jimmy en MJ ʼn groot rol. Heelagter Devon Williams met sy allemintige skopvoet en dartellopies het keer op keer die opponente verras.

Vleuels soos Etienne Taljaard, beter bekend as Mot, en sy vleuelmater Lundi Msenge, flanke André Fouché en Francois Kleinhans en agtsteman Kwanda Dimaza, senters Ali Mgjima en Andrew Koto, skrumskakel Giovan Snyman of Chriswill September is almal manne wat bal in die hand kan ooplê doellyn toe.

Een ding waarmee die Pumas jaar ná jaar sukkel, is wanneer die groter rugbyunies hul sterspelers kom wegrokkel met groter salarisse. Nou, aan die einde van hierdie seisoen, groet hulle juis vir Thinus de Beer, Ali Mgjima en Diego Appollis wat almal na groter unies gaan.

Vroeër vanjaar was dit Sebastian de Klerk wat na die Bulle vertrek het. Dit moet ʼn groot frustrasie wees. Hieroor trek Jimmy net sy skouers op.

Dit is moeilik om Andrew Kota te keer as die man eers op spoed is. (Foto: Verskaf)

“Kan jy dink hoe gefrustreerd ek sou raak as hulle nie die ouens vat nie? Want dan beteken dit ons doen iets nie reg nie. Ek glo natuurlik daaraan dat wanneer jy as speler ʼn tweejaarkontrak het, moet jy nie uit jou kontrak probeer kom nie. Dit is integriteit. Die Bybel sê immers vir ons ʼn kontrak is bindend.

“Moet dus nie in die middel van ʼn kontrak na my toe kom en vertel dat die een of ander unie vir jou R80 000 meer aanbied nie. Natuurlik is dit ʼn geleentheid wat jy kry, maar wat van die geleentheid wat die Pumas vir jou gegee het toe niemand anders wou nie?”

“Voltooi jou kontrak en dan gaan jy na waar die Vader jou lei,” sê hy baie ferm.

Dan wink Jimmy vir Shane Kirkwood nader, die kaptein van die Pumas.

Hierdie groot slot het verlede week in die 81ste minuut ʼn spier verrek en daar was vrese dat hy die finaal gaan misloop. Tog is hy fiks verklaar. Shane vertel dat Saterdag se wedstryd sy tweede geleentheid in ʼn Curriebeker-eindstryd is.

Devon Williams laat vat met die bal. (Foto: Verskaf)

Hy was wel nie verlede jaar die kaptein nie, maar het saam met sy spanmaats vonkelwyn uit die goue koppie gedrink. Hy gesels rustig en kalm en dit is duidelik dat hierdie rustigheid van hom ook na sy spanmaats oorspoel.

“Iemand het my nou die dag gevra wat ons anders gaan doen wanneer ons Saterdag op die veld draf. Selfs al is dit ʼn finaal, benader ons dit nes enige ander wedstryd. Van die begin van die jaar was ons fokus daarop om die finaal te haal. Ons gaan by ons planne hou, seker maak ons wedstrydplan is in plek en dan hoop ek die dinge sal vir ons uitwerk,” sê hy.

Oor die ondersteuning wat hulle die afgelope jaar by die Laevelders gekry het, is Shane opreg dankbaar. Daar was die afgelope week honderde boodskappe van ondersteuning wat ingestroom het; trotse ondersteuners wat op sosiale media opgewonde gesels oor hul span se kanse. Regdeur die jaar het mense na die stadion gekom – oud en jonk – om só hul ondersteuning tasbaar te wys. Dit is dinge soos hierdie wat hy en sy Puma-maats opreg waardeer, sê Shane.

Dan is dit tyd om die manne op die veld bymekaar te roep. Hulle vorm ʼn kring en die jongmanne begin spontaan sing, vol selfvertroue.

“Ek glo ʼn span moet kan sing, want dit wys jy het gees,” sê Jimmy wat self nie huiwer om die mikrofoon vas te hou en sy gunstelingtreffer van Neil Diamond uit te basuin nie. Hy het juis die geleentheid gekry om verlede Augustus, met die All Blacks-toets op Nelspruit, rustyd die skare te vermaak met sy sangtalent. ʼn Moerse voorreg, sê hy hieroor.

Die reuk van braaivleis hang in die lug. Iewers wag ʼn vleisie op die kole vir die manne. Hulle kom een-een van die veld af, groet vriendelik en verdwyn dan om te gaan stort. Duidelik gefokus en vol selfvertroue.

Mag die beste span Saterdag wen, maar mag hierdie span die Pumas wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.