Ospreys skok die Lions

(Foto: @ospreys/X)

Wanneer jy iets in ʼn sakkie het, knoop jy dit toe, veral op die rugbyveld.

Dit is ʼn ou-ou les wat die Lions Sondagmiddag op Ellispark op die harde manier geleer het toe hulle die eerste keer ooit ʼn nederlaag teen die Walliese Ospreys, en boonop nog op Ellispark, gely het.

Die Ospreys het die wedstryd in die Europese Uitdaagbekerreeks met 38-28 gewen nadat die Lions rustyd met 18-14 voor was.

Inteendeel, die Lions was met tien minute oor nog met 28-17 voor en die besoekers het poegaai voorgekom.

Maar die Ospreys het nie gaan lê nie, hulle het uit die as opgestaan en in die laaste sewe minute drie drieë gedruk.

Die Lions kan hulself skop oor die nederlaag, want dit is op ʼn skinkbord weggegee. Maar wanneer jy drie geel kaarte vir ongeoorloofde spel kry, betaal jy ʼn prys.

In die eerste 70 minute het die Lions oorheers, hulle het die Ospreys stukkend geskrum en baie maklik oor die voordeellyn gekom.

Maar die geel kaarte wat die haker PJ Botha, die kaptein en senter Marius Louw en die plaasvervangerflank Hanru Sirgel die trekpas laat kry het, het die Lions aan die hakskene gebyt.

Waar dit vir 70 minute gelyk het asof die Walliesers nie spelskeppers het nie, asook vaart ontbreek het, was daar ʼn dramatiese ommekeer.

Toe het die Lions loodvoetig voorgekom.

Gelukkig was die Lions reeds seker van ʼn plek in die uitspeelrondes voor die wedstryd, maar hulle sal selfondersoek moet doen waarom hulle so maklik boedel oorgegee het.

Ook sal hul gebrek aan dissipline aangeraak moet word.

Puntemakers:

Lions: 28 (18): Drieë: Marius Louw (2), JC Pretorius, Morné van den Berg. Doelskop: Sanele Nohamba. Strafdoele: Nohamba (2).

Ospreys: 38 (14): Drieë: Owen Watkin, George North, Keelan Giles, Cameron Jones, Morgan Morse. Doelskoppe: Jack Walsh (3), Dan Edwards (2). Strafdoel: Edwards.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tjaart ·

Mens wil nie enkele spelers uitsonder nie, maar dis moeilik om verby die Lions se stut Ntlabakaye te kyk, as dit kom by die Lions hierdie jaar. Die man is eenvoudig vet. Hy weeg byna 160 kg – en meeste daarvan is vet. Ek laat my nie vertel dat daar nie ander fikser talent is wat beter kan doen nie. Indien hy daar is oor regstellende aksie – onthou net dat hy by die peperduur St Stithians College op skool was.

Joan ·

Tussen die lepel en die mond val die pap op die grond.Die Lions betaal duur vir 3 geel kaarte waarvan sommige ‘n mens laat wonder het of die Franse skeidsregter sy frustrasie op die Lions uitgehaal het nadat sy landgenote deur die Bokke uit die wereldbeker geboender is.
Die les is egter jy kan nie 30 minute met 14 man speel nie.

MAGRIETHA ·

Die lions het hul reserwes te gou te vinnig opgebring ,die skeidsregter dink ek was te vinnig met geelkaarte ek regverdig net 1 , maar so verskil suidelike van noordelike skeidsregters hoop die lions het n les geleer uitdie wedstryd

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.