Paar benoude oomblikke, maar Blitse steeds bó

’n Vlieënde Ronald Brown duik oor vir die laaste drie van die wedstryd. (Foto: Hansie Linde)

Met toeskouers wat die aksie in hul unieke sewesdrag – enigiets van lieweheersbesies tot Romeinse soldate – vanuit hul pawiljoensitplekke volg, het die Blitsbokke die VSA met 26 – 14 in hul tweede groepwedstryd geklop.

Ja, daar was weliswaar ʼn paar broekskeur-oomblikke in die tweede helfte, maar die Suid-Afrikaanse sewesrugbyspan is steeds onoorwonne in Kaapstad.

Selvyn Davids-hulle het die enigste twee drieë in die eerste helfte gedruk om ʼn gemaklike rustydvoorsprong van 14 – 0 op te bou.

Ryan Oosthuizen se flinke balagternasitvaardighede het vir die openingsdrie gesorg, terwyl Rosko Specman oudergewoonte vir ʼn tikkie “Specmagic” verantwoordelik was toe sy vaartversnelling die Amerikaners lelik ontkant betrap het.

Die VSA word gereeld as die sluimerende reuse van wêreldrugby beskou en Lucas Lacamp het presies gewys waartoe die Amerikaners in staat is toe hy munt geslaan het uit ʼn paar Blitsbok-foute.

Met Justin Geduld wat met ʼn geel kaart vir gevaarlike spel van die veld gestuur is, het Lacamp twee vinnige drieë gedruk.

Binne ʼn japtrap was die telling 14-elk en die gevaarligte het so ʼn bietjie in Groenpunt begin flikker.

Maar die Suid-Afrikaners het verlede week weer hul mojo tussen die sandduine van Dubai gevind en hulle is ongetwyfeld ʼn span wat vir mekaar en die Blitsbok-embleem speel.

Impi Visser het die tuisspan se derde drie gedruk nadat die Blitsbokke se bobaas hanteerwerk lekker in aanloop tot sy drie saamgesels het.

Daarna het Ronald Brown se kul-jou-hier-kul-jou-daar-lopie met die daaropvolgende afskop vir die finale spyker in die VSA se wedstryddoodskis gesorg.

Suid-Afrika se volgende wedstryd is om 19:34 teen Ierland en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

  • Puntemakers:

Suid-Afrika: Drieë: Ryan Oosthuizen, Rosko Specman, Impi Visser en Ronald Brown.

VSA: Drieë: Lucas Lacamp (2).

(Foto: Hansie Linde)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.