Potgieter kan nie wag om Cheetah-trui te dra

Jacques Potgieter in aksie vir die Springbokke. Foto: Juan Mabromata/AFP.

Jacques Potgieter se rugbypad het al ’n paar wye draaie gemaak: Hy was al in aksie vir die Bulls, Sharks, Toulon en Waratahs.

Nou het die 34-jarige voormalige Springbok ’n kontrak van een jaar met die Vrystaatse Cheetahs onderteken en hy kan nie wag om sy eerste wedstryd vir die Bloemfonteiners te speel nie.

“Dit is vir my ’n reuse-voorreg om ’n Cheetah te word. Ek het nog nie die trui oor my kop getrek nie, maar ek kan glad nie wag nie,” het hy gesê.

Volgens Potgieter sal hy nie skroom om sy rugbykennis en -ervaring met die jonger spelers in die groep te deel nie.

“Ek glo dat ek ’n belangrike rol in Bloemfontein kan speel. Ek is een van die ouer spelers wat ’n voorbeeld vir die jong manne moet wees en hulle moet nie skroom om raad te vra nie.”

Terselfdertyd het Brandon Thomson, die belowende jong losskakel, ook sy verskyning in Bloemfontein gemaak.

Die 26-jarige no. 10 was onlangs nog deel van die Glasgow Warriors-groep, terwyl hy ook provinsiale rugby saam met die Westelike Provinsie gespeel het.

En net soos Potgieter sien hy ook na sy eerste wedstryd uit.

“Die moontlikheid om saam met Ruan Pienaar (skrumskakel) en Frans Steyn (binnesenter) te speel is iets waaroor ek baie opgewonde is. Ek het destyds die plakkate van hulle teen my muur geplak en ek sal graag met hulle oor dinge op en langs die veld wil gesels,” het Thomson gesê.

Thomson het destyds saam met die Junior Bokke amok op die internasionale verhoog gemaak.

Die Cheetahs speel op 10 Maart teen die Sharks in Bloemfontein nadat hulle die afgelope naweek met die Stormers klaargespeel het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alta Alleman ·

Potgieter kan nìe wag om Cheetah-trui te dra , NIE.

MakersMark ·

Nadat hy by die bulle weg is het hy harder gewerk om saam met vroulief media blaaie te haal as om rugby te speel. Dis hoekom hy nou vir een jaar by die Cheetahs sit.

Dup ·

Ek dink Potgieter moet eerder sy rugbysak dra en die Cheetah trui oor die kop trek…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.