Pro14: was dit die ommekeer vir SA spanne?

Luther Obi op pad na sy onderskepdrie in die 80ste minuut (Foto: Facebook Cheetahs Rugby)

Was Vrydagaand die ommekeer vir Suid-Afrika se spanne in die Pro14-reeks?

Een sege teen ‘n uitsoekspan maak nie ‘n suksesvolle winter nie, maar die Cheetahs was Vrydagaand op hulle kop in die 38-19-sege oor Leinster in Bloemfontein. Nou moet die Southern Kings hulle dit begin nadoen.

Leinster het daardie eerstehelfte-aanslag van die Cheetahs Vrydagaand nie verwag nie en eintlik eers hier kort voor die laaste kwart regtig begin lyk na ʼn span wat verlede seisoen laas, op 26 Desember om presies te wees, ʼn ligawedstryd verloor het.

Dit is met ʼn mate van ongeloof dat jy die telling sien klim het na 12-5 nadat die Iere vroeg-vroeg gevaarlik en 5-3 voor was. Hulle is in foute ingedwing, en kon net eenvoudig nie die Cheetahs se volgehoue vorentoe-speel deur die pak voorspelers en die dodelike keerwerk verwerk nie. Strafskop na strafskop is teen hulle toegeken, en Ernst Stapelberg het hulle gestraf met sy doelskoppe en lynskoppe.

Voorlangs was Torsten van Jaarsveld ʼn derduiwel. Hy het die bal gedra, by die afbreekpunte gewerskaf en daar óm getêkkel; en so ook die flanke Henco Venter en Paul Schoeman.

Oupa Mohoje was ná sy besering net 60 minute op die veld. Hy was indrukwekkend en het saam met die uitstekende samespel van die Vrystaters se pak gedryf, twee keer ʼn teenstander afgestamp, goed verdedig en ʼn paar keer mooi aangesluit.

Agter die skrum was Francois Venter kookwater. Hy het egter nie WP-bande nie, want dit is die enigste manier waarop Damien de Allende bo hom in die Bokgroep kan wees.

Sy breekslag net voor rustyd toe William Small-Smith mooi bygebly het om af te rond, was seker die wedstryd se hoogtepunt.

Terloops, Small-Smith begin weer lyk na die man wat almal gaande gehad het toe hy die Junior Springbokke in 2012 die Wêreldkampioenskap help wen het. En vergeet nie van Tian Meyer Vrydagaand op skrumskakel nie.

Die Cheetahs het goed gehardloop, en Makazole Mapimpi, Sergeal Petersen op heelagter en Rosko Specman op die ander vleuel het die Iere laat bontstaan. En toe kom Luther Obi laat in die wedstryd op en gaan druk in die 80ste minuut ʼn 70 meter-onderskepdrie!

Dit was goed om te sien hoe die Cheetahs nie net aanval nie, maar rotsvas verdedig – behalwe dat hulle, soos hulle Curriebeker-maats, ook ontbloot is as die bal wyd gespeel word.

Dít is hoe die besoekers se linkervleuel Barry Daly hulle drie drieë kon gaan druk.

♦  Die wen-seël is gebreek; nou vir die Ospreys aanstaande Vrydagaand, ook in die Vrystaatstadion, met die Glasgow Warriors wat die week daarna volg.

ʼn Mens hoop net Vrydagaand se wegblyers sal nou in hulle hordes begin opdaag om hulle span te ondersteun wat gewys het hulle kan saam met die heel grootste honde blaf.

Puntemakers –

Cheetahs (19) 38: Drieë: William Small-Smith, Torsten Van Jaarsveld, Ox Nche, Luther Obi. Doelskoppe: Ernst Stapelberg 3. Strafdoele: Stapelberg 4
Leinster (5) 19: Drieë: Barry Daly 3. Doelskoppe: Ross Byrne 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Boetman ·

Die skrywer is reg, jy moet WP bande hè vir plek in die bokspan.

Johan ·

Welgedaan Cheetahs ek dink nie daar is n ander Provinsie wat dit sal kan doen nie. Op een aand twee wedstryde wen. Franscois Venter hoort in die bok span en Tian Meyer op skrumskakkel.

Josua Keys ·

Ek is al my jare ‘n Lions ondersteuner want ek’s ‘n Krugersdorper en hier gebore hou van Ross en Faf maar stem saam jou ek hou baie van Tian Meyer en die manier hoe hy speel en sal daarvan hou om hom ook ‘n regverdige kans te wil gee, as hy bly soos hy is en nie windga… word nie dink ek Joost No 2 is aan die kom hy moet net reg bestuur word.

Kiewiet ·

CHEETHAS was en is nog altyd die beste span in Suid Afrika

Lol ·

Asb. moenie die Cheetahs spelers in Bokspan inwens nie, hulle sukkel klaar met diepte om terseftertyd aan 2 kompetisies deel te neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.