Pumas stoot bors uit teen Griekwas

Nog ‘n drie vir die Pumas tydens die Curriebeker. (Foto: Twitter/ Curriebeker)

Die kenmerke van ʼn goeie span, het die oud-Springbok-rugbyafrigter Kitch Christie altyd gesê, is steeds om aan die wenkant te bly, al vaar hy nie in al sy wedstryde goed nie.

Dit het die Pumas, wat verlede seisoen die Curriebeker gewen het, Vrydagaand in Mbombela gewys toe hulle Griekwas met 28-13 geklop het.

Die wedstryd is gekenmerk deur oorgretigheid en ʼn rits foute deur albei spanne omdat hulle mekaar se swak- en sterkpunte ken.

Hulle ding immers al jare lank teen mekaar mee en volg byna dieselfde spelpatroon. Die spanne se twee afrigters, Jimmy Stonehouse (Pumas) en Pieter Bergh (Griekwas), ken al die kort paaie, maar hulle het die kuns aangeleer om spelers se vaardighede te verbeter en te sorg dat daar altyd spelers op die voerband is om die spelerspense van die groter, ryk bonde aan te vul.

Die Pumas het egter ʼn raps meer selfvertroue danksy hul status as Curriebekerkampioen en bestendigheid raak nou een van hul wagwoorde.

Die Pumas (14 punte) is slegs een punt agter die Vrystaat-Cheetahs (15) wat die Blou Bulle in Bloemfontein met 32-7 geklop het.

Die Vrystaters gaan egter die volgende paar weke klippe kou in die Curriebekerreeks omdat die Vrystaat-Cheetahs ook oorsee meeding.

Die Vrystaat-Cheetahs speel juis volgende Vrydag teen die Pumas en sal baie diep moet delf.

Die Pumas word gevolg deur die Westelike Provinsie (10), Leeus (8), Haaie (6), Griekwas (5), Blou Bulle (1) en Griffons (0) op die puntelys.

Die Leeus, wat die Griffons op Ellispark met 41-26 geklop het nadat hulle rustyd nog agter was, speel komende Saterdag teen die Haaie.

Die Bulle, wat steeds segeloos is, reis Vrydag na Welkom om die Griffons te pak en wees maar verseker dat hulle nie altyd welkom sal voel nie.

Griekwas reis na Kaapstad vir hul kragmeting op 1 April teen die WP.

Puntemakers:

Pumas 28 (7): Drieë: Etienne Taljaard, Brandon Thomson, André Fouché. Doelskoppe: Tinus de Beer (2). Strafdoele: Thomson, De Beer (2).

Griekwas 13 (3): Drie: Carl Els. Doelskop: Lubabalo Dobela. Strafdoele: Dobela (2).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.