Rassie tevrede met oefenkamp

Rassie Erasmus. Foto: Geoff Caddick/AFP.

Die Springbok-oefenkamp het vandag in Stellenbosch tot ʼn einde gekom en Rassie Erasmus is tevrede met hoe sake verloop het.

“Dit was ʼn fantastiese kamp en dit het die afrigters ʼn gulde geleentheid gebied om die spelers vir die komende toer gereed te kry,” het SA Rugby se direkteur van rugby gesê.

Siya Kolisi-hulle speel op 5 November teen Ierland in Dublin, waarna hulle ook teen Frankryk, Italië en Engeland kragte sal meet. ʼn SA A-span sal tussendeur ook teen Munster en die Bristol Bears in aksie wees.

“Die Springbokke speel agtereenvolgende naweke teen Ierland en Frankryk – die twee beste spanne ter wêreld – terwyl Italië en Engeland altyd gedugte teenstanders op hul tuisvelde is. Terselfdertyd is Munster en Bristol sterk klubspanne wat beslis ʼn uitdaging vir die SA A-groep sal wees.”

Volgens Erasmus is die spelers wat die kamp bygewoon het nou op dieselfde golflengte. Dit het ook vir nuwe spelers soos Manie Libbok en Sacha Mngomezulu ’n kans gegee om aan die Springbok-strukture gewoond te raak.

“Die bestuur kon hierdie spelers ook in aksie sien terwyl die finale spanne gefinaliseer word. Die volgende stap is juis om te bepaal wie hierdie Saterdag saam met die Springbokke na Ierland vertrek en wie saam met die SA A-span ʼn rukkie later na Europa sal reis.”

Die spelers wat reeds hierdie naweek op die vliegtuig klim, sal aan hul onderskeie Verenigde Rugbykampioenskap-spanne onttrek word, terwyl die ander vir die groot derby-kragmetings beskikbaar sal wees.

Op die plaaslike front speel die Lions en die Stormers Saterdag teen mekaar, terwyl die Bulls en die Sharks Sondag kragte sal meet.

Volgens Jacques Nienaber (afrigter) kon die spelers nou weer as’t ware hul toetsrugbymondering aantrek nadat hulle ʼn ruk ʼn blaaskans van internasionale wedstryde geniet het.

Hy het ook vroeër die Japanse klubs bedank wat Springbokke soos Malcolm Marx, Lood de Jager, Kwagga Smith en Pieter-Steph du Toit vir die toer beskikbaar gestel het.

Hierdie klubs het ʼn spesiale vergunning gemaak omdat die wedstryd teen Engeland op 26 November buite die normale internasionale toetsvenster val.

“Ons het vanuit die staanspoor gesê dat ons elke moontlike geleentheid moet benut om spandiepte en momentum met die oog op volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi op te bou. Die wedstryd teen Engeland sal ʼn belangrike rol in dié proses vertolk omdat die Rose een van die wêreld se voorste spanne is,” het Nienaber gesê.

Die twee spanne sal Vrydag aangekondig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Moeilike toer wat dalk nie ‘n slegte ding is voor die wereldbeker nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.