Reinach kan vir broodnodige vonk sorg

Cobus Reinach duik oor vir ’n drie teen die Wallabies. Foto: GB Jordaan.

Wanneer ’n mens “Cobus Reinach” op Google insleutel, gooi die internet-soekenjin onmiddellik woorde soos fast en tries uit.

Die 32-jarige skrumskakel is inderdaad vinnig en hy kan ongetwyfeld drieë druk – wie kan sy blitsige driekuns teen Kanada in die 2019-Wêreldbeker vergeet?

Nadat ’n dyspierbesering hom vir ’n hele ruk langs die kantlyn gehou het, is Reinach nou weer gereed om sy vaardighede op die internasionale verhoog uit te stal. Die vlugvoetige no. 9-speler is op die Springbokke se plaasvervangersbank vir hul belangrike Rugbykampioenskap-wedstryd teen Australië ingesluit.

“Dit is baie lekker om weer deel van die opset te wees. Ek is so opgewonde dat ek sukkel om saans aan die slaap te raak!” het hy gesê.

Reinach het in November 2021 laas vir die Springbokke op Twickenham gespeel, terwyl sy ontydige besering ook beteken dat hy vanjaar nie veel wedstrydtyd vir Suid-Afrika óf Montpellier gekry het nie.

Spelers wat hul terugkeer ná ’n besering maak kan boonop sukkel om sommer net so met die intrapslag weer hul voete te vind; kyk byvoorbeeld na Duane Vermeulen.

Tog glo Reinach dat die Bokke se oefeninge vir voldoende voorbereidingswerk sorg.

“Ons gee ons beste tydens die oefensessies en ons probeer om die intensiteit van ’n wedstrydscenario na te boots. Ek is ook al vanaf die aanvang van die seisoen deel van die groep en ek is opgewonde om te speel.”

Soos reeds genoem beïndruk hy gereeld met sy vaart, maar kan ook ’n rugbybal skop; iets wat die Springbok-bestuur waarskynlik van hom sal verwag.

Verlede jaar se SA A-wedstryd teen die Blou Bulle gedurende die Britse en Ierse Leeus-toer is eintlik ’n perfekte voorbeeld van wat Reinach in ’n Springbok-trui kan vermag: Sy diens aan die agterlyn was suiwer, hy het sy skopvoet oordeelkundig ingespan en hy het ’n sleutelrol in Aphelele Fassi se drie gespeel.

Hy sien daarna uit om Saterdag ’n goeie kombinasie met Damian Willemse te vorm. Met Handré Pollard en Elton Jantjies op die krukkelys sal die Stormers-speler die no. 10-trui teen die Wallabies dra.

“Al wat ek van Damian verwag is goeie kommunikasie en ek sal vir goeie diens sorg.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

N ·

Reinach is briljant. Nie net is hy vinniger as baie vleuel nie, sy skopwerk is goed hy lees die spel en skop goed. Sy talent word gereeld deur SA geignoreer.

N ·

9- Reinach, 10- Goosen, 11- Mapimpi, 12- Esterhuizen/de Allende, 13-Am/Serfontein, 14- Arendse en 15- Kolbe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.