RG en Munster se paadjies skei

RG Snyman. (Foto: Hansie Linde)

Munster het Maandag bevestig dat RG Snyman nie sy kontrak na afloop van die huidige seisoen sal hernieu nie.

Die 28-jarige Springbok-slot sal op die uitkyk vir nuwe speelgeleenthede wees, het die klub in ʼn verklaring gesê.

Snyman, wat die Webb Ellis-trofee twee keer saam met die Springbokke omhoog gehou het, het in 2020 deel van die Munster-opset geword.

ʼn Rits beserings het egter ʼn reuseinvloed op sy tyd by die klub gehad.

Hy was vandeesmaand op die operasietafel vir ʼn skouerbesering wat hy in die Wêreldbeker-eindstryd teen Nieu-Seeland op die Stade de France opgedoen het, terwyl ʼn kniebesering hom vroeër vir ʼn geruime tyd langs die veld gehou het.

Volgens Munster is Snyman ʼn baie gewilde speler op Thomond-park en hy het net vóór die Wêreldbeker-toernooi ʼn belangrike rol in hul suksesvolle Verenigde Rugbykampioenskap-veldtog gespeel.

Volgens berigte stel plaaslike spanne in Snyman se dienste belang.

Die slot, wat 2,06 m in sy sokkies staan, het ’n barshou vir die Springbokke in die Wêreldbeker-halfeindstryd teen Engeland gespeel.

Sy drie laat in die tweede helfte het die Bokke se herlewing ingelui en só saam met Ox Nche se skrumvernuf en Handré Pollard se geleerde skopvoet het hy toegesien dat die Suid-Afrikaners die wedstryd met 16 – 15 wen.

  • Snyman se internasionale loopbaanstatistieke:

Toetse: 34

Buiging: Springbokke teen Engeland op Ellispark in 2018

Laaste toets: Springbokke teen Nieu-Seeland op die Stade de France in 2023

Drieë: Twee

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

John Dobson kry vir RG Snyman by Stormers voordat Jake White hom weer op raap. Netnou sit White met elke Springbok al vanaf 1995!

Manie ·

RG speel uitstekend die dag wanneer hy wel kan speel. Hy is ‘n reuse beserings risiko om op jou boeke te hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.