RG op die operasietafel

Die Springbokke se RG Snyman. (Foto: Miguel Medina/AFP)

Die Ierse klub Munster het Maandag bevestig dat RG Snyman vandeesweek ʼn operasie in Suid-Afrika moet ondergaan.

Die 28-jarige slot, wat saam met ʼn rits ander Springbok-spelers vir die tweede keer die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het, het ʼn bors-skouer-besering in die Wêreldbeker-eindstryd opgedoen.

Snyman was een van sewe plaasvervanger-voorspelers wat teen die All Blacks op die Stade de France diens gedoen het. Hy het vir Franco Mostert in die 52ste minuut van die kragmeting vervang.

Daarbenewens het hy ʼn deurslaggewende rol in die halfeindstryd teen Engeland gespeel. Sy drie laat in die tweede helfte het die Bokke se herlewing ingelui en só saam met Ox Nche se skrumvernuf en Handré Pollard se geleerde skopvoet het hy toegesien dat die Suid-Afrikaners die wedstryd met 16–15 wen.

Hy was uiteindelik suksesvol met 29 duikslae by die rugbyskouspel in Frankryk, terwyl hy ook verdedigers aan’t raai met sy sterk lopies en uitstekende balverspreidingvaardighede gehou het.

Die slot – wat 2,06 m in sy sokkies staan – het in 2020 deel van die Munster-opset geword nadat hy vantevore vir die Bulls in Suid-Afrika en Honda Heat in Japan uitgedraf het.

Hy was egter vir ʼn geruime tyd op die krukkelys in Ierland, maar hy kon vroeër vanjaar sy terugkeer in Munster se suksesvolle Verenigde Rugbykampioenskap-veldtog maak.

Dit was juis sy vertonings in die laaste paar wedstryde van die toernooi wat sy weg terug na die Springbok-span gebaan het.

“RG het ʼn uithalervertoning gelewer en met sy fisieke teenwoordigheid het hy beslis ʼn verskil op die veld gemaak. Hy het ʼn moeilike tyd agter die blad, maar hy is een van ons steunpilare en die spelers het baie respek vir hom,” het ʼn beïndrukte Graham Rowntree, Munster-afrigter, destyds gesê toe hy sy terugkeer teen die Stormers gemaak het.

Snyman sal 32 jaar oud wees wanneer die volgende Wêreldbeker-toernooi in Australië begin.

Snyman se Springbok-statistieke:

Toetse: 34

Buiging: 9 Junie 2018 teen Engeland op Ellispark

Laaste toets: 28 Oktober 2023 teen Nieu-Seeland op die Stade de France

Drieë: Twee

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

vuurvliegie ·

Sterkte ou grootte. Herstel vinnig. RG was net 28 minute op die veld teen die Might All Blacks en hy moet ‘n operasie kry. Dink net hoe sou hy gelyk het as hy die volle 80 minute gespeel het.

JD ·

Sê my, wie het toe gewen in die finaal?
Siestog, arme All Blacks was darm baie hartseer gewees. Shame

Christian ·

As dit by enigiets Springbokke kom, is jy swartgallig. Mens kan nie jou kommentaar ernstig opneem nie. Daar is niks verkeerd daarmee om van die “ander span” te hou of hulle te ondersteun nie maar in jou geval is dit ‘n haat vir die Bokke wat ek nie kan verstaan nie. Jy het die Bokke week in en week uit tydens die wêreldbeker by elke geleentheid sleg gese en ek sien niks het verander nie. Snaaks dat jy so stil was die eerste 5-6 dae nadat die beste span (Die Bokke) die beker gelig het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.