Rohan ook op pad na Japan

Rohan Janse van Rensburg sal voortaan sy rugby vir die Canon Eagles in Japan speel. (Foto: X/England Rugby)

Die Yokohama Canon Eagles het bevestig dat Rohan Janse van Rensburg voortaan sy rugby in Japan sal speel.

Die Springbok-senter het vir die afgelope seisoen of twee vir die Sharks in Durban uitgedraf nadat hy vroeër uithalerspel vir die Sale Sharks in Engeland gelewer het.

Hy pak egter onmiddellik sy tasse vir Japan.

“Ek is baie opgewonde om deel van die Yokohama Canon Eagles-opset te word en dit is vir my ʼn voorreg om die klub en sy ondersteuners te verteenwoordig,” het Janse van Rensburg gesê.

Volgens die oudleerder van Hoërskool Waterkloof is hy oorgehaal om weer op sy beste in Japan te wees.

In die kleure van Sale het hy immers 23 drieë in sy 73 klubwedstryde gedruk, maar dinge het nie heeltemal volgens plan in Durban verloop nie en hy het net in ʼn paar wedstryde uitgedraf.

“Ek is gereed om die Canon Eagles op enige moontlike manier by te staan en ek kan nie wag om vir almal te wys waartoe ek in staat is nie.”

Die Japanse klub, wat tans die vierde plek op die Rugby League One-punteleer beklee, spog reeds met spelers soos Faf de Klerk en Jesse Kriel in sy geledere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronél ·

Sprei jou vlerke, in jou eie land word jy nie ‘n kans gegun nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.