Rooiwarm RG uit Sharks-kragmeting

Munster se RG Snyman. (Foto: Twitter/Munster)

ʼn Harde stamp teen die kop in die tweede helfte van Munster se wedstryd teen die Stormers beteken dat RG Snyman nie hierdie naweek teen die Sharks in Durban sal speel nie.

Die atletiese slot het ʼn barshou in die Ierse klub se oorwinning op die DHL-stadion gespeel, maar Wêreldrugby se harsingskuddingregulasies beteken dat hy eers vir ʼn rukkie op die kantlyn moet wees voordat hy weer mag speel.

Snyman het onlangs weer sy terugkeer tot die veld gemaak nadat ʼn kniebesering hom vir maande op die krukkelys gehou het.

Hy het egter sy staal teen die Stormers gewys. Hy het sy man op verdediging gestaan, met sy aangeewerk beïndruk en sy stempel in die lynstane afgedruk.

Graham Rowntree was in sy skik met die Springbok-slot se werkverrigting; veral nadat ʼn kniebesering hom lank langs die veld gehou het.

“RG het ʼn uithalervertoning gelewer en met sy fisieke teenwoordigheid het hy beslis ʼn verskil op die veld gemaak. Hy het ʼn moeilike tyd agter die blad, maar hy is een van ons steunpilare en die spelers het baie respek vir hom,” het die Munster-afrigter gesê.

Snyman het in 2018 sy internasionale buiging vir die Springbokke teen Engeland op Ellispark gemaak en hy het Suid-Afrika al in 23 toetse verteenwoordig. Sy laaste toets was in die eindstryd van die 2019-Wêreldbeker teen die einste Engelsmanne in Japan.

Maar hy klop baie hard aan die deur van die Springbok-span en sy teenwoordigheid sal die Suid-Afrikaners ʼn fisieke hupstoot in Frankryk gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Dit is goed om die speler weer in aksie te sien maar dit bewys tog dat spelers soos hy ‘n groot leemte in plaaslike rugby laat.Ek weet dat baie met my verskil maar persoonlik is ek van mening dat die Curriebeker afgeskaf en met iets anders vervang moes word.
Dit is lankal nie meer ‘n kompetisie waarin die beste spelers van provinsies meeding om die gesogte beker nie.
Dit het eerder ‘n toets vir die reserwekrag geword van die provinsies wat in ander kompetisies meeding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.