Rose-speler kan tydelik in Bul-lynstaan rank

Engeland en Bath se Charlie Ewels. (Foto: Kieran Galvin/NurPhoto via AFP)

Hy staan 1,97 m in sy sokkies, weeg meer as 100 kg en gaan in ʼn tydelike hoedanigheid in die Bulle se lynstane rank.

Volgens berigte het die Bulle ʼn korttermyn-leenooreenkoms met Bath gesluit om die dienste van die Engeland-slot, Charlie Ewels, te bekom.

Die 27-jarige Ewels het Engeland reeds in 30 toetse verteenwoordig terwyl hy al 111 keer vir Bath uitgedraf het.

Hy het egter verlede jaar ʼn ernstige kniebesering in die Rose se Australiese avontuur opgedoen en hy werk hard om sy fiksheid aan Steve Borthwick en kie vóór die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk te bewys.

Daar is ʼn moontlikheid dat hy reeds Vrydag sy buiging vir die Pretorianers se Curriebekerspan teen die Haaie in Durban kan maak.

Met die Bulle se slotspens wat bra leeg is, kan Ewels ʼn verskil op Loftus Versfeld maak voordat hy weer in Julie na Bath terugkeer.

Die Pretorianers het oor die Paasnaweek darem weer op die wenpad gekom nadat ʼn sterbelaaide span met Griekwas op Loftus Versfeld afgereken het.

Volgens Russell Winter geniet die tuisspan die sege – dit is immers iets wat vir die afgelope paar weke so skaars soos hoendertande in Pretoria was – maar hulle gaan beslis nie nou al die braaivleisvuur aansteek nie.

“Die spelers het die afgelope paar weke hul bes gedoen om wedstryde te wen en ek glo dat ons darem nou so ʼn bietjie momentum het waarop ons kan voortbou. Daar lê egter nog baie harde werk voor,” het die Bulle se assistent-afrigter gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mike ·

Ja wat kan ons anders verwag van Jake White. Hy kan nie senior spelers ontwikkel nie. Dis makliker om die tjekboek uit te haal. Vra vir Jimmy hoe n mens afrig Jake, sonder n tjekboek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.