Rugby: Treurmare vir Suid-Afrikaanse spanne

(Foto: pixabay)

Dit was nie net die Springbokke wat Suid-Afrikaanse rugby-ondersteuners se langnaweek verongeluk het nie, die spanne in die nuwe Verenigde Rugbykampioenskap het gewys hoeveel werk daar nog voorlê.

Die twee spanne wat vanjaar in die Curriebeker-eindstryd gespeel het, het albei loesings by twee van die voorste spanne in Europa gekry. Die Bulls het met 31-3 teen Leinster verloor en die Sharks het ʼn drag slae van 13-42 teen Munster gekry.

Dit was die eerste kans om te sien hoe Suid-Afrika se superrugbyspanne ná die inperkings van Covid-19 teen Europese klubspanne opweeg. En daar was bitter min goeie nuus. Net die Lions kon die naweek wen en dit was ook maar broekskeur nadat die span van Johannesburg rustyd met 35-0 voorgeloop het. Hulle kon net 3 punte in die tweede helfte aanteken en Zebre het vinnig ingehaal om die eindtelling 38-26 in die Lions se guns te maak.

Die Stormers was ná 45 minute met 18-7 voor teen Benetton, maar die laaste 30 minute van die wedstryd was die besoekers flou. Die eindtelling was 22-18 in die tuisspan se guns.

In die laaste wedstryd van die naweek het Munster die Sharks reeds in die eerste helfte in die grond in gespeel en teen rustyd met 20-3 voorgeloop. Al het die span van Durban balbesit aanvanklik oorheers, het dit niks op die telbord beteken nie.

Vrydagaand speel die Lions in die tweede ronde teen die Scarlets (20:35). Die Bulls pak terselfdertyd vir Connacht (20:35). Saterdag kom die Sharks teen Glasgow Warriors (16:00) te staan en die Stormers gaan Munster probeer klop (20:35).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ruan ·

Bulls het teen Leinster (Jammer as die spelling verkeerd is) gespeel.

Nico Strydom ·

Dagsê Ruan

Baie dankie. Jammer vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Vriendelike groete
Maroela Media

Smoothie ·

Rugby: Treurmare vir Suid-Afrikaanse spanne
Kyk bietjie na die Carling Currycup reeks se vier top spanne wat deurgedring het, -kyk dan na die Vereenigde Kampioenskapreeks, -nie dieselfde spanne nie! Dis hoekom SA spanne sports maak in die eerste en tweede helfde. Mens moet dalk bietjie verder delg en kyk is dit nie SARU se skuld nie. Vrystaat Cheetahs en OP Kings het aan hierdie reeks deelgeneem. Dalk kan Ceetahs en Kings nou tyd gebruik om vir 2022 voor te berei as almal klaar gespeel het 4 Junie 2022 vir die Currycupreeks!! Min beserings en geen vlugflouheid tussen hier en VK en Europa nie. In NZ kies hul beste kaliber van Streekspanne en gebruik hul dan in die Nasionale span. Hier luister ons eers Politiek en vir SARU en pas dan toe!!!

Andre ·

Al wat ek wil sê dat dit rêrig tragies is dat ons rugby spelers nou oortuig is dat jy’n drie kan skop ipv druk. Ek wil nog kyk maar die gehalte van ons spel maak dit makliker om af te skakel

piet ·

Ons spanne sal beter vaar wanneer die Bok-spelers terug is maar ek dink selfs dan gaan ons steeds swaartrek. Die verskil is die gehalte in diepte en dit gaan net meer prominent word in hierdie lang kompetisie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.