Rugby: Wraaknaweek vir Europese spanne

Springbok-afrigter Jacques Nienaber. (Foto: Patrick HAMILTON/AFP)

Dit was ʼn naweek van wraak vir Europese spanne in hul toetsreekse teen spanne van die Suidelike Halfrond.

Nie net was daar geskiedkundige oorwinnings vir Wallis teen Suid-Afrika en Ierland teen die All Blacks nie. Skotland het Argentinië 29-6 in Salta geklop om die reeks gelykop te maak en Engeland het dieselfde gedoen teen Australië in Brisbane. Eddie Jones se span het 25-17 gewen en die reeks is nou op ʼn mespunt in Sydney.

Die Iere het vir die eerste keer ooit ʼn toets in Nieu-Seeland gewen toe hulle 23-13 met ʼn halfgebakte All Black-span afgereken het. Die All Blacks se span loop oor van talentvolle spelers, maar daar is geen fut in hulle samespel nie. Afrigter Ian Foster sal diep moet dink oor kombinasies voor die beslissende toets in Wellington.

Springbok-afrigter Jacques Nienaber verwys na Saterdag se derde toets teen Wallis in Kaapstad as ʼn eindstryd. Hy het self ʼn paar interessante spankeuses om hierdie week oor te besluit.

Sy besluit om 14 veranderings te maak aan die beginspan vir die verloortoets sal nog lank bespreek word. Hy het egter van die begin af gesê hy wil al 42 spelers speelkans gee.

“Daar was risiko, maar die antwoorde wat jy daaruit kry weeg swaarder as die risiko,” het hy ná die wedstryd gesê.

Die Bokke het gevaarlik gelyk op die aanval, maar hulle kon nie afrond nie. Selfs toe Wallis met 14 spelers moes speel, kon die Bokke nie oor die doellyn kom nie. Daar was ook nie genoeg speelruimte vir die gevaarlike agterspelers van die Bokke nie.

Daar sal ook baie gepraat word oor dissipline. Eben Etzebeth het twee belangrike strafskoppe afgestaan laat in die wedstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leon ·

Kan nie verwag om enige span te wen. Die vis vrot van die kop af. Met n afrigter wat nie eens respek vir die nasionale volkslied het kan nie veel verwag word nie. Hy staan met n “pet” (hoed) op sy kop terwyl die volksliec voor miljoene kykers gespeel word. Uiters swak om die minste te se

piet ·

Gepraat van afrigting. Ek het gekyk na Ierland se agterlynspel. Genade, dis soos ‘n openbaring in vergelyking met die “no show” agterlyn van die Bokke. Hulle is innoverend en lyk gevaarlik met hul bewegings. Ek was baie beindruk met hul spel. Daar is geen innovasie in ons agterlynspel nie en ons verkies eerder om voort te ploeter met hierdie sieldodende up and under skoppery wat meerendeels tot broekskeur resultate lei. Ons het die spelers, speel “totale” rugby. En ‘n nuwe siekte wat ingekruip het, is hierdie skoppies wanneer ons in die teenstanders se kwartgebied is en besig is om aan te val. Swak besluitneming, skop net besit weg. Ons behoort spannetjies soos Wallis behoorlik te kan klop in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.