‘Sam was beslis op sy stukke’

Nieu-Seeland se Sam Cane. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Sam Cane se spel in die tweede toets teen Argentinië het beslis sy kritici se monde gesnoer. Die All Blacks het die Suid-Amerikaners met 53–3 in Hamilton oorrompel om vir hul verrassende nederlaag die vorige week te vergoed.

Veral Cane het ʼn barshou gespeel en die 30-jarige losvoorspeler het gedoen wat ʼn mens van ʼn kaptein verwag – hy het nie net deur sy voorbeeld op die veld gelei nie, maar ook sy spanmaats aangespoor.

Een van sy grootste kritici in die aanloop tot die Hamilton-toets was sir John Kirwan. Die legendariese Kiwi-agterspeler het vroeër sy mond oor Cane uitgespoel en onder meer aangevoer dat hy nie die mas opkom nie.

“Sam Cane het ʼn uitstekende wedstryd gehad,” het Kirwan ná die jongste wedstryd gesê.

Die All Blacks-kaptein het 13 duikslae teen die Argentyne uitgevoer, terwyl hy meer as 20 m met die bal in die hand gevorder het.

“Hy het met soveel energie gespeel. Ja, hy het aanvanklik niks buitengewoons gedoen nie, maar hy het beslis vir die ander gewys hoe dinge op verdediging gedoen moet word. Leierskap op ʼn rugbyveld gaan oor soveel meer as om net ʼn paar besluite te neem en Cane was beslis op sy stukke.”

Die rugbykommentator en oudskrumskakel Justin Marshall het ook met Kirwan se ontleding saamgestem.

“Dit was eintlik ʼn foutlose vertoning,” het ʼn beïndrukte Marshall gesê.

Dit is ʼn welkome hupstoot vir die beleërde Cane nadat die Nieu-Seelandse media vroeër berig het dat sy kop as kaptein van die All Blacks kan rol.

Volgens ʼn destydse berig in Otago Daily Times was daar ’n moontlikheid dat Sam Whitelock – en nie Cane nie – die All Blacks op hul Suid-Afrikaanse safari sou aanvoer.

Die Nieu-Seelandse rugbybase het egter hul vertroue in hom gestel en hy het die afgelope naweek gewys waartoe hy in staat is.

Die All Blacks speel volgende week teen Australië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Hierdie John Kirwan het heeltemal te veel te sê en kritiseer elke 2 rugby speler. Kan hul nie vir hom ‘n navorsing werkie of so iets daar gee nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.