SA’ner druk twee drieë in ’Canes-sege

Warren Gatland. (AP Photo/Mark Baker)

Van ’n bul tot ’n nul. Dít is hoe die Chiefs se Warren Gatland waarskynlik moet voel.

Kort nadat hy deur Rugby World-lesers as die beste afrigter van alle tye aangewys is, kry Gatland die wind van voor in Nieu-Seeland se Aotearoa-rugbyreeks. In vier pogings kon sy Chiefs-span nog nie ’n enkele wedstryd wen nie.

Gatland-hulle het vandag 25 – 18 teen die Hurricanes verloor. En boonop het die oud-Stormersvleuel Kobus van  Wyk ’n deurslaggewende rol vir die ’Canes gespeel.

Van Wyk se pad in die Aotearoa-reeks volg basies die inverse van Gatland se roete: Nadat die Suid-Afrikaner se swak aangee teen die Crusaders basies die wedstryd op die skinkbord vir die Christchurch-span gegee het, het hy vandag vir daardie blaps vergoed.

Hy het twee drieë vir die Hurricanes gedruk, terwyl Jordie Barrett goed met die skopskoen vertoon het.

Puntemakers:

Hurricanes: Drieë: Kobus van Wyk (2) en Du’Plessis Kirifi. Doelskoppe: Jordie Barrett (2). Strafskoppe: Barrett (2).

Chiefs: Drieë: Strafdrie en Lachlan Boshier. Strafskoppe: Damian McKenzie (2).

  • In Dunedin het die Crusaders, maar soos altyd, hul teenstanders oorrompel toe hulle die Highlanders met 40 – 20 ore aangesit het.

In een van die beste wedstryde van die reeks tot dusver het die Crusaders die skrums oorheers, maar die Highlanders verdien wel ’n pluimpie vir die wyse waarop hulle nooit gaan lê het nie.

Dit het twee drieë laat in die wedstryd  – deur Tom Christie en Will Jordan – geverg om die wa deur die drif vir die Crusaders te trek.

Puntemakers:

Crusaders: Drieë: Will Jordan (2), Tom Christie (2) en Sevu Reece. Doelskoppe: Richie Mo’unga (3). Strafskoppe: Mo’unga (3).

Highlanders: Drieë: Shannon Frizell en Ngane Punivai. Doelskoppe: Mitch Hunt (2). Strafskoppe: Hunt (2).

  • Puntestand in die Aotearoa-reeks:
  1. Crusaders (ná drie wedstryde): 14 punte
  2. Blues (ná drie wedstryde): 12 punte
  3. Hurricanes (ná drie wedstryde): 4 punte
  4. Chiefs (ná vier wedstryde): 3 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michael 1 ·

Ongelukkig is hy weg oor die diskriminerende kwota sisteem en ek sou dieselfde gedoen het,jy kan die beste vleuel in die wereld wees maar die posisie is geoormerk van Cravenweek tot Springbokke vir spelers van kleur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.