SA’ner sorg vir vuurwarm spel in Siberië

Kobus Marais in aksie. Foto: Verskaf.

Strela het vir ’n tikkie geskiedenis gesorg: Nie net het die klub vir die eerste keer in sy geskiedenis in die Russiese premierliga gespeel nie, maar hy het sommer terselfdertyd ook tot die uitspeelwedstryde van die toernooi deurgedring.

En een van die sterre is die Suid-Afrikaanse losskakel Kobus Marais.

Dié talentvolle no. 10 het op die plaaslike verhoog sy rugby vir die Blou Bulle se ouderdomspanne, die OP Kings en die Pumas gespeel waar hy ’n naam opgebou het as ’n betroubare losskakel wat nie sommer met ’n stelskop miskorrel nie.

Die 26-jarige het sy goeie reputasie geen skade in Rusland aangedoen nie – hy het 130 punte in 12 wedstryde aangeteken en 89% van sy stelskoppogings was suksesvol. Daarbenewens was hy ’n paar keer as die speler van die wedstryd aangewys.

Voormalige Bloubul-hardebaarde soos JP Nel (hoofafrigter) en Jaco Engels (hulpafrigter) is ook deel van die Strela-opset en hul leiding was vir Marais van onskatbare waarde.

“Hulle het my die vryheid gegee om my beste op die veld te lewer. Hulle is ongelooflike mentors en ons hele span leer baie by hulle,” het die speler vanuit Rusland gesê.

Marais het in ’n vorige onderhoud met Maroela Media gesê dat indien hy oor drie jaar vir Russiese burgerskap kwalifiseer, hy ’n moontlike Wêreldbeker-kans met beide hande sal aangryp.

Foto: Verskaf.

Hierdie droom is duidelik besig om al meer van ’n werklikheid te word en hy het sy kontrak met die klub verleng.

Tog is daar twee dinge waarmee die meeste Suid-Afrikaners – om nie eens van ’n Marble Hall-boorling te praat nie – in Rusland sal sukkel: Die bibberweer en die taal.

“Ek was bevoorreg om in Siberië teen Krasnojarsk te speel. Nodeloos om te sê het die kwik maar lekker gedaal en dit was vriesend. Gelukkig het die adrenalien vinnig gesorg dat ’n mens van die koue vergeet!”

Die taal is egter ’n perd van ’n ander kleur.

“Ek verstaan genadiglik die maklike woorde, terwyl die meeste ouens darem Engels kan praat. Ons het ook ’n tolk wat ons gedurende oefeninge en vergaderings bystaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cecilia ·

Mooi so Kobis. Ons baie trots op jou. Speel j rugby daar want in SA is sport mos nou n Politieke speelbal. Ekt voorreg gehad om j ouers te ontmoed en hulle is so ongelooflik trots op jou.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Wel, ek wil net sê dis nogal ‘n goeie store! Ten minste het hy talent en weet hoe om te skop!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.