Scarlets bêre Cheetahs reeds vóór rustyd

Die Cheetahs het met 45 – 26 teen die Scarlets in Parma verloor. Foto: Twitter.

Die Cheetahs kon gister nie op hul vorige goeie vertoning teen Pau voortbou nie en hulle het met 45–26 teen die Scarlets in ʼn Europese Uitdaagbeker-wedstryd vasgeval.

Munier Hartzenberg het vroeg reeds die eerste drie van die wedstryd gedruk nadat hy ʼn uitstekende lyn gehardloop het om die verdedigers onverhoeds te betrap.

Daarna was dit egter eenrigtingverkeer en die Walliese span het vyf drieë binne die bestek van 27 minute gedruk om ʼn groot rustydvoorsprong van 38–7 op te bou.

Die Vrystaters kon eers weer in die 64ste minuut ʼn drie druk toe Reinhardt Fortuin hopeloos te veel momentum naby die Scarlets-doellyn gehad het. ʼn Paar minute later het Daniel Kasende sy toorkunsies langs die kantlyn uitgestal om die Blikore se derde drie van die wedstryd te druk.

Friedle Olivier het laat in die wedstryd die Cheetahs se vierde drie vir ʼn bonuspunt gedruk, maar danksy hul blitzkrieg in die eerste helfte het die Scarlets maar net te veel skietgoed gehad.

Die Cheetahs het weliswaar die bal meer keer op die veld rondgegooi (113 aangeë teenoor die 110 van Scarlets), maar hul teenstanders het aansienlik meer meters (384 m teenoor 184 m) afgel en hulle het ʼn rits Vrystaat-verdedigers (16) geklop.

Toegegee, die Vrystaters se vertoning in die tweede helfte het ʼn mens ʼn bietjie hoop vir die res van hul veldtog gegee, maar daardie eerste helfte was inderdaad ʼn baie slordige affêre gewees.

  • Puntemakers:

Scarlets: Drieë: Steffan Evans (2), Ryan Conbeer, Johnny McNicholl, Sam Louisi en Ken Owens. Doelskoppe: Sam Costellow (6). Strafskop: Costellow.

Cheetahs: Drieë: Munier Hartzenberg, Reinhardt Fortuin, Daniel Kasende en Friedle Olivier. Doelskoppe: Ruan Pienaar.

  • Europese Uitdaagbeker-punteleer (Groep B):
  1. Scarlets: 10 punte
  2. Lions: 8 punte
  3. Benetton: 5 punte
  4. Pau: 5 punte
  5. Cheetahs: 5 punte
  6. Dragons: 4 punte
  7. Stade Francais: 4 punte
  8. Bayonne: geen punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.