Schoeman-groete uit Frankryk

Die Schoeman-gesin in Frankryk: Riana, Muller en Marnus. Foto: Verskaf.

Hoewel Marnus Schoeman deesdae ’n bietjie Frans moet kan verstaan en praat om te weet wat op die speelveld aangaan, het die plaaslike afrigters darem nie ’n tweetalige woordeboek nodig om hom te waardeer nie.

Harde werk, talent en ’n positiewe ingesteldheid is immers eienskappe wat ’n universele rugbytaal praat.

Die 32-jarige flank speel deesdae vir Grenoble in Frankryk nadat hy plaaslike rugbyliefhebbers in die kleure van die Pumas en die Leeus vermaak het.

“Ek weet dat my beste rugbydae nog lank nie verby is nie. Ek probeer om met elke wedstryd beter te speel en om die span altyd eerste te stel. Die Here het vir my talent én geleenthede gegee; dus wil ek altyd my beste lewer en ’n verskil maak,” het die blondekop-losvoorspeler uit Frankryk laat weet.

En ja, soos wat almal vir jou sal sê: Daar is ’n verskil tussen die rugby wat in sonnige Suid-Afrika gespeel word en die klipharde tweestryde wat in Europa opgedis word.

Volgens Schoeman is dit soos ’n lekker fisieke Curriebeker-derby, maar met ’n tikkie Franse flair.

Marnus Schoeman in aksie vir die Lions. Foto: GB Jordaan.

“Ek leer met elke wedstryd iets nuuts en ek speel elke keer my hart uit. Ek kan wel getuig dat daar nie iets soos ’n maklike wedstryd in Frankryk is nie.”

Benewens die nuwe spelmanier was die taal ook ’n taamlike aanpassing. Om “oui” te sê is darem baie moeiliker as ’n doodgewone “ja”.

Maar gelukkig is sy vrou (Riana) en jong seun (Muller) saam met hom daar in die vreemde en ’n tuiste is vir hom enige plek waar hulle drie saam is.

Kersfees het hulle met ’n onvergeetlike avontuur na onder meer Strasbourg, Stuttgart en Bern gevier.

“My Frans vorder ook fluks. Ek gaan weekliks vir lesse en my rugbyverpligtinge beteken dat ek die grootste deel van die dag aan die taal blootgestel word. Dit is nog glad nie perfek nie, maar ek weet darem wat in ’n gesprek gesê word, terwyl die meeste Fransmanne my ook verstaan.”

Foto: Verskaf.

Klein Muller is ook besig om die taal onder die knie te kry.

“Sy oppasser praat net Frans met hom en ek dink hy vaar ’n bietjie beter as Riana. So tussendeur haar werk, ma-wees en ander pligte kry sy maar min tyd vir lesse. Tog het sy genoeg kennis van die taal om die winkels in te vaar,” vertel hy laggend.

Hy verlang egter na sy familie in Suid-Afrika.

“Ek geniet elke oomblik hier, maar Suid-Afrika sal altyd ons huis wees. Ons families is daar en ons is trots Suid-Afrikaans. Tog sal ek, Riana en Muller nooit die tyd hier vergeet of vir enigiets verruil nie – dit is ’n voorreg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.