Sesnasies: Italië pluk Hane se vere

Italië se Danilo Fischetti (middel) probeer van Frankryk se Uini Atonio (links) en Paul Boudehent wegbreek (25 Februarie 2024) (Foto: Denis Charlet/AFP)

Die Franse rugbyspan ly nog aan bomskok en die nagevolge (babelaas sal die Springbokondersteuners sê) nadat hulle in verlede jaar se Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Suid-Afrika met 28-29 verloor het.

Dit was Sondag in Lille duidelik toe die Franse bra planloos voorgekom het sonder hul kaptein en skrumskakel Antoine Dupont, wat nou eerder verkies om sewesrugby te speel.

Die Franse is tot in hul skoene geskud toe hulle kragmeting in die Sesnasies-reeks teen Italië met 13-13 gelykop geëindig het.

Die onbesonge Italië, die houtlepel-spesialiste van die Sesnasies-reeks.

Die Hane moes eintlik verloor het, want Italië se losskakel Paolo Garbisi se strafskop-poging met speeltyd verstreke, het die regter regoppaal getref en veld-op gespat.

Garbisi het onnodig tyd gemors toe hy aangelê het en toe die bal omgeval het, het hy dit haastig oorgestel en pale toe gemik.

As Italië gewen het, sou dit sy eerste wegsege oor die Hane sedert 1997 gewees het.

Die Franse, wat voor Sondag 14 opeenvolgende Sesnasies-wedstryde teen die Azzurri gewen het, was in die eerste helfte aangevuur deur hul makro-pak.

Hoe dan anders, want die vaskopstut Uini Atonio weeg 145 kilogram en die jong slot Posolo Tuilagi 149 kilogram.

Hulle het heeltemal oorheers en Italië in die skrums gemaal, maar kon rustyd net met 10-3 voorloop ná Charles Ollivon se drie in die eerste helfte.

Maar toe kruip swak dissipline weer in met die Franse senter Jonathan Danty wat kort voor rustyd met ’n geel kaart (dit is na ’n rooi kaart verhoog nadat die bunkerstelsel geraadpleeg is) afgestuur is.

Met moeë voorspelers en sonder Dupont asook Danty, het die Franse se spel uitgerafel.

Waar hulle in die eerste helfte vol planne was, het hulle al hoe meer foute begaan, doelloos geskop en die deur vir die vurige Italianers oopgemaak.

Hulle het in die tweede helfte nie net verdedig nie, maar met die bal begin hardloop.

Dit het tot die heelagter Ange Capuozzo se drie gelei wat die telling met 13-elk gelykop gemaak het.

En toe stuur Garbisi daardie laaste strafskop na regs in die 80ste minuut!

Puntemakers: Frankryk 13 (10): Drie: Charles Ollivon. Doelskop: Thomas Ramos. Strafdoele: Ramos (2).

Italië 13 (3): Drie: Ange Capuozzo. Doelskop: Paulo Garbisi. Strafdoele: Martin Page-Relo, Garbisi.

Bronne: SuperSport, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

Ek het soe gehoop vir ‘n Italia 16-13 wen maar die paal het in die pad gekom! Maak een speler rerig ‘n soomer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.