Shakes sê Blitsbokke moet verdediging regskud

Die Suid-Afrikaners speel vanaand teen Ierland. Foto: Hansie Linde.

Die Blitsbokke het weliswaar hul Seweswêreldbeker-veldtog op ʼn wennoot begin toe hulle vir Chili met 32–5 in Kaapstad geklop het, maar Shakes Soyizwapi meen die Suid-Afrikaners sal hul verdediging moet opskerp.

ʼn Begeesterde Ierland-span wag immers vanaand om 22:33 in die kwarteindstryd.

“Ons het ʼn kliniese vertoning op die aanval teen Chili gelewer, maar ons verdediging het gesorg dat ons van ons momentum moes prysgee. Teen Ierland kan ons dit nie bekostig nie,” het die Blitsbok-kaptein gesê.

Volgens Soyizwapi sal die Suid-Afrikaners hul sokkies moet optrek as hulle die Iere in hul spore wil stuit.

Maar op die aanval skort daar nie veel nie.

Angelo Davids het oudergewoonte ʼn drie of twee gedruk, terwyl Ronald Brown en Mfundo Ndhlovu ook vir die Suid-Amerikaners hoofbrekens besorg het.

En volgens Brown is dit omtrent ʼn belewenis om in Kaapstad voor die begeesterde tuisskare te speel.

Die Blitsbokke was goed op die aanval teen Chili. Foto: Hansie Linde.

“Dit was ʼn ongelooflike ervaring om op die veld te draf en al die ondersteuners te sien. Ons is bly dat dinge volgens plan verloop het,” het Brown gesê.

Hy het egter ook gesê dat die Ierse aanslag nie ligtelik opgeneem moet word nie en hy het spelers soos Terry Kennedy en Jordan Conroy as die gevaarmanne uitgesonder.

In ander wedstryde het Samoa, Australië, Fidji en Nieu-Seeland ook hul wedstryde op ʼn drafstap gewen.

Uitslae:

Ierland 17–5 teen Engeland

Frankryk 19–12 teen Kanada

Samoa 40–12 teen VSA

Nieu-Seeland 43–5 teen Skotland

Argentinië 22–7 teen Kenia

Australië 35–0 teen Uruguay

Fidji 29–5 teen Wallis

Suid-Afrika 32–5 teen Chili.

Beskikbare bepalings:

11:53: Kanada teen Uruguay

12:15: VSA teen Wallis

12:37: Skotland teen Kenia

13:39: Zimbabwe teen Suid-Korea

14:01: Duitsland teen Tonga

14:23: Hongkong teen Uganda

19:35: Nieu-Seeland teen Argentinië

20:35: Frankryk teen Australië

21:35: Samoa teen Fidji

22:33: Blitsbokke teen Ierland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.