Sharks ruk mat onder Griekwas se voete uit

(Foto: Sharks/Facebook)

Die damwal het vir 55 minute gehou, maar nadat Griekwas se Stefan Ungerer ʼn geelkaart gekry het, het die besoekers se stoom opgeraak en was dit blote eenrigtingverkeer.

Die Sharks het Sondagmiddag op Kingspark ʼn redelik maklike oorwinning van 35-10 oor Griekwas in die sogenaamde voorbereidingsreeks behaal nadat die besoekers goeie weerstand gebied het in die eerste uur.

Maar net soos die Gariep- en Vaaldam begin oorloop het na goeie reën was dit klaarpraat, want Griekwas kon nie die drieëvloed keer nie.

Die Sharks se snellers het gedy, hulle het gapings geskep en op volle vaart gehardloop, want Griekwas kon nie meer al die gate toestop nie.

Toe Griekwas se plaasvervanger Thinus De Beer, boonop nog ʼn geelkaart kry nadat hy ʼn teenstander gevaarlik in die lug gestamp het, was Griekwas uit op hul voete.

Die vraag wat nou gevra word, hoeveel waarde die reeks vir ʼn span soos Griekwas inhou.

Hul gebrek aan diepte is reeds in die Curriebekerreeks ontbloot en sonder genoeg geld kan hulle nie genoeg spelers koop nie.

Aan die ander kant, as hul fiksheid en dissipline kan verbeter en hulle speel soos in die eerste uur, is daar tog hoop.

Vir die Sharks was dit niks meer as ʼn goeie oefenlopie nie. Hulle het baie vaart agterlangs en onthou dat hul groot spelskepper Curwin Bosch, Sbu Nkosi en Lukhanyo Am nie gespeel het nie.

Maar dit was maar ʼn swakkerige wedstryd, straks die swakste van almal die naweek. Dit was byna soos proewe met elke speler wat die oog probeer tref het.

Punte:

Haaie 35 (7): Drieë: Anthony Volmink, strafdrie (7 punte), Aphelele Fassi, Thaakir Abrahams, Jordan Chait. Doelskoppe: Manie Libbok (2), Chait (2).

Griekwas 10 (10): Drie: Gideon van der Merwe. Doelskop: George Whitehead. Strafdoel: Whitehead.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

tweeling ·

As daar ‘n verbod is op die aankoop van spelers dan sal die speelveld meer gelyk wees.

Pierre ·

Dit werk ongelukkig nie so nie. Selfs in die amateur dae het spelers met potensiaal probeer om eerder vir groter of sterker unies te speel.

Frans ·

In die amateurdae het die Provinsies waar sterk weermagbassise gehuisves is van die spelers wat daar hul diensplig verrig het gebruik gemaak.Frik du Preez,Mannetjies Roux
en Hannes Botha was almal in die weermag toe hul in 1962 gekies is om teen die Britse Leeus in 1962 te speel.Dit was ‘n reeks waarin die Springbokke na ‘n sukkelbegin steeds sterker na vore gekom het.Eerste toets 3-3,2de 3-0,3de 8-3,4de 34-14.
Net om the wys hoe rugbyreëls verander het sou die laag(hoog)vat wat Mannetjies
Roux op die Engelse ster losskakel Richard Sharp waarmee hy lg se kakebeen gebreek het,hom vandag ‘n rooikaart en lang skorsing op die hals gehaal het.
Dit was ‘n gatslag vir die Engelse want baie van hul aanvalsplanne was om die man gebou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.