Sir Clive meen Bokke kan hulself skop

Sir Clive Woodward. (Foto: Glyn Kirk/AFP)

Sir Clive Woodward is beslis nie die Springbokke se grootste rasieleier nie. As die voormalige Engeland-afrigter nie kla dat die Suid-Afrikaners die bal te veel wegskop nie, brom hy oor Rassie Erasmus se doen en late.

Die 67-jarige Woodward, wat die 2003‑Wêreldbeker-rugbytoernooi saam met spelers soos Jonny Wilkinson en Martin Johnson gewen het, het in sy jongste Daily Mail-rubriek geskryf dat die Springbokke hulself kan skop omdat hulle nie ʼn doeltreffende stelskopper in hul geledere vir die wedstryd teen Ierland gehad het nie.

“Die harde werklikheid is dat die Springbokke in alle waarskynlikheid die kragmeting kon gewen het as Manie Libbok en Faf de Klerk met hul stelskoppogings in die kol was.”

Volgens Woodward het die heldedade van Michael Lynagh, Joel Stransky, Wilkinson, Dan Carter en Handré Pollard die belangrikheid van ʼn betroubare skopper onderstreep.

Hoewel hy baie respek en waardering vir Libbok se aanvallende spel het, meen hy dat die Springbokke nou ʼn belangrike besluit moet neem.

“Dit beteken nie noodwendig dat hulle hom uit die span moet laat nie, maar hulle sal óf die skoppligte na Damian Willemse moet oordra óf ʼn manier bewimpel om vir Pollard terug in die span te kry. As dit van my afhang, is Pollard beslis in die opdrafspan.”

Woodward het ook die kollig op die Springbok-hakers laat val.

“Toe Malcolm Marx sy besering opgedoen het, het hulle besluit om eerder vir Pollard nader te trek. Teen Ierland het Deon Fourie – speler wat as haker of losvoorspeler kan diens doen – met sy ingooiwerk op ʼn belangrike tydstip gesukkel. Die geringste dingetjie kan die grootste verskil in ʼn Wêreldbekertoernooi maak.”

Tog het die Bokke hom ook beïndruk.

“Dit was ’n wonderlike en boeiende skouspel. Dit was die eeste keer sedert die openingswedstryd tussen Frankryk en Nieu-Seeland dat dinge werklik weer vlamgevat het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Kobus ·

Libbok is ‘n goeie speler, nie ‘n goeie skopper nie. Bygesê dat Libbok die Stormers baie wedstryde laat wen het. Sy kantlyn skoppe is perfek. Hy kan spel skep maar myns insiens is daar 3 x faktore wat ‘n groot rol speel in enige wedstryd nl. Kaart, onderskep drie en ‘n skepskop. Ons het nie ‘n skepskopper nie, Pollard het ook sy limiete maar ek glo hy kan ‘n verskil maak.

Manie ·

Libbok se skewe korrek het die Stormers vanjaar se URC gekos Kobus.

schalk ·

ja nee wat ek dink die bokke kan hulle self skop maar 10 teen 1 gaan dit ook mis wees

Hoekom ·

Hopenlik tussen deur die pale!!

Vir wat skop jy pale instede van kantlyn as jy weet jy kan nie pale skop nie…

Andrew ·

Hulle kon kantlyn skop vir 3 van die pogings, maar wat sou die verskil wees as daai taktiek in elkgeval net een drie opgelewer het vir die wedstryd.Die hakers in die groep korrel net so skeef soos die skoppers.

Sobymykoolkop ·

Ruan Pienaar is te ” oud “. Hy sou nie plek kry nie omdat die kwota speler MOET spankry. Is Johnny Sexton nie ook 38 nie?

Frank ·

In Ruan se eie woorde: hy sien nog die gaps, maar wanneer hy daar kom, is hulle klaar toe…

Old no7 ·

My gevoel is dat daar ń sameswering is dat daar so geblaas word dat ń noordelike span die beker moet wen…..

Andrew ·

Jip, en iemand skyn n liggie in die bok se oe as hy pale toe korrel. Dis hoekom hy so lank vat om te skop, hy kannie die pale sien nie.

Niklaas ·

Ek dink Libbok het homself al as puik skopper in vele wedstryde bewys , maar hy het duidelik ‘n probleem met hantering van druk sodra dit ‘n belangrike internasionale wedstryd is en hy moet aanlê pale toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.