Sir Clive sit sy Noordelike Halfrond-hoed op

Sir Clive Woodward. (Foto: Glyn Kirk/AFP)

Sir Clive Woodward is nie ʼn man wat van sy rugbyhart ʼn moordkuil maak nie en die voormalige Engeland-breier voorspel dat die Noordelike Halfrond-spanne té sterk vir hul Suidelike Halfrond-teenstanders in die kwarteindstrydronde van die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk sal wees.

“Europese spanne het die groepfaseronde oorheers en ek glo dat hulle ook skoonskip in die kwarteindstryde sal maak. Hier kom die krag uit die Noorde!” het hy in sy Daily Mail-rubriek geskryf.

Woodward, wat in 2003 die Webb Ellis-trofee saam met Martin Johnson se Engeland-span omhoog gehou het, meen dat Wallis, Ierland, Engeland en Frankryk hul uitspeelwedstryde gaan wen.

Hy dink egter dat die Springbokke se tweestryd met Frankryk op die Stade de France ʼn naelbytstorie kan wees.

“Frankryk gaan wen, want ʼn mens voel dat dit iets is wat hulle as gasheerland net móét doen. Terselfdertyd hou ek ook vir hulle duim vas, want dit sal wonderlik wees as die Noordelike Halfrond die weg vorentoe in die toernooi baan.”

Volgens Woodward is die Bokke gedugte teenstanders, maar hulle sit met ʼn spankeusekopseer – wat gemaak met Handré Pollard en Manie Libbok?

In teenstelling met sy vorige rubriek, waar hy gesê het dat Pollard beslis in die opdrafspan moet wees, skryf hy nou dat die Bok-bestuur vertroue in Libbok moet hê.

“Ja, hy het nie goed teen Ierland geskop nie, maar hy bied soveel opsies vir sy span op die aanval. In ʼn belangrike Wêreldbeker-uitspeelwedstryd kan sy kreatiewe spel ʼn groot verskil maak, maar dit kan steeds nie genoeg wees om Frankryk te klop nie.”

Hy het ook na die toernooi-loting gekap.

“Die feit dat Ierland teen Nieu-Seeland en Frankryk teen Suid-Afrika in die kwarteindstryde speel, onderstreep bloot die belaglikheid van die loting. Hierdie tweestryde is goed genoeg vir die eindstryd. Twee groot spanne gaan nou uitgeskakel word en daar is ʼn sterk moontlikheid dat die halfeindstryd-deelnemers uitsluitlik uit Sesnasieslande sal bestaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Ek het ‘n vermoede dat dei All Blacks dalk net Ierland se opmars gaan stuit. Frankryk gaan ‘n bridge too far wees vir die Bokke. Ben O Keefe is ‘n terrible skeidsregter wat beslisl nie opgewasse sal wees teen die intimidasie van die tuis skare nie. Die rub of the green sal Frankryk bevoordeel.

Riaan ·

Sir Clive is ‘n lewende bewys dat die titel “Sir” feitlik van alle waarde gestroop is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.