Siya, Gregor tree in die bresse vir Manie

Manie Libbok in aksie teen Skotland. (Foto: Nicolas Tucat/AFP)

O wee, Manie Libbok het toe met sy skopkelkie-akkuraatheid in die Springbokke se openingswedstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi teen Skotland gesukkel.

Die 26-jarige losskakel het met sy heel eerste stelskoppoging van die kragmeting in Marseille skeef gekorrel en sy radar was toe uiteindelik met drie van sy skoppe nie behoorlik ingestel nie.

Faf de Klerk het later die span se pale-toe-skop-pligte oorgeneem.

Siya Kolisi het egter vir Libbok in die bresse getree – die Humansdorp-boorling het immers steeds met ʼn speler van die wedstryd-vertoning vorendag gekom.

“Hierdie vraag (oor die verbroude skoppe) is een wat gereeld gevra word. Ons speel saam as ʼn span en daar is kere wanneer dinge nie heeltemal volgens plan vir ʼn speler verloop nie,” het Kolisi gesê.

Die Springbok-kaptein het egter vinnig die heuningkwas vir Libbok se kreatiewe algemene spel uitgehaal nadat sy goeie verdediging ʼn vlieënde Darcy Graham in sy spore gestuit het en sy slim skoppie vir Kurt-Lee Arendse vlerke op pad na die Skotse doellyn gegee het.

“Mense wys maklik vinger na die verbroude stelskoppe, maar hulle vergeet van Manie se aanvallende spel en die wyse waarop hy die toutjies getrek het en beheer van die wedstryd geneem het.”

Selfs Skotland se Gregor Townsend was in sy noppies met Libbok se vertoning.

Die 50-jarige afrigter het ook in sy speeldae op losskakel uitgedraf en hy meen dat die Suid-Afrikaner ʼn groot bedreiging vir sy teenstanders is.

“Hy kan met die bal hardloop, dit na sy spanmaats laat loop en goed skop. Hy is ʼn uitstekende toevoeging tot ʼn talentvolle Suid-Afrikaanse agterlyn. Terselfdertyd help hy die Bokke om baie meer aanvallende rugby as in die vorige Wêreldbeker-toernooi te speel en dit plaas verdedigers onder kwaai druk,” het Townsend gesê.

Volgens Kolisi speel die Springbokke nie net vir hul ondersteuners nie, maar ook vir mekaar.

“Faf en Cheslin (Kolbe) kan ook skop. As een speler ʼn afdag het, dan staan die ander gereed om hom te ondersteun. Niemand is in elke liewe wedstryd ewe goed nie, maar ons werk saam as ʼn eenheid.”

Libbok het in aanloop tot die Wêreldbeker ʼn foutlose skopvertoning teen die All Blacks op Twickenham gelewer.

“Ek dink Libbok het goeie lesse in die afgelope paar toetse geleer. Hy is in geheel ʼn baie bestendige skopper en hy sou nou besef het dat hy nie dinge moet oordink bloot omdat hy ʼn Bok-trui dra nie. Wedstryde word dalk nie elke liewe keer met skoppe gewen nie, maar dit kan jou die spel kos as daar met drie of vier pogings skeef gekorrel word,” het André Pretorius, voormalige Springbok-losskakel, vroeër aan Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

De Villiers ·

Manie was speler van die wedstryd ten spyte van die verbroude skoppe, dit alleen sê vir my BAIE!

Fran ·

Ek sê dit weer: Manie is ‘n goeie speler maar ons gaan ‘n totale ander deuntjie sing as ons in ‘n kwart, semi-of finaal kom en verloor omdat Manie misgeskop het. dis duidelik, ons het GEEN erkende, gereelde skopper in die span nie. Dit kan ons baie trane kos. Dan wil ek die koor hoor skree wat nou sê dit maak nie ‘n verkskil nie.

Buks ·

As dit reen, of die speel toestande leen dit nie om aanvallende hardloop rugby te speel nie gaan ons in die moeilikheid wees.

Hussin ·

Kan nie glo mense kyk nog die twak nie. Dan praat hulle nog van die bokke, ek sien nie ‘n bok op daardie hemde nie.

Spearhead ·

Goeie skop aangee en spel maak jou nie wedstryde wen nie. As die wedtryd dalk met ‘n punt of twee beslis moes word, is die skoppe baie belangrik. Nee wat Siya jy kan hom verdedig soos jy behoort, maar hy skop swak.
Die Bulle kon hom nie eers behoorlik aanwend nie, en laat gaan. Hy is beslis nie beste in die land nie.

capie ·

Ja Spearhead, die Stormers is baie dankbaar dat die Bulle hom laat gaan het. Kyk maar na die 2 URC jare.

Richard ·

Daai skop wat drie tot gevolg gehad was fantasties. Maar die probleem is nie vir een wedstryd nie, in n tawwe toernooi soos Wêreldbeker kan EEN verbroude skop in ‘n wedstryd jou uit toernooi laat val en huis toe kom

Kobus ·

Goed en wel, hy is speler van die wedstryd. Telling in eindstryd is 22-21. Strafskop is bepalend, Manie moet oorskop vir oorwinning. Ek vra weer, het ons ‘n skopafrigter en indien wel, wie is dit?

H.A. ·

Kolisi sê mos hy wil die beker AFRIKA toe bring (nie SA toe nie). Nou vra ek net of AFRIKA hom in die span gesit het ? Het AFRIKA hom gehelp oefen vir die bokke ? Het AFRIKA hom wêreldbeker toe gestuur op AFRIKA se rekening? Ek hoor mos hy gaan in Frankryk bly, sy vrou en kinders bly al daar. Kolisi sal snaakse dinge begin kwytraak voor hy totsiens sê vir AFRIKA.

Casper ·

Ons kan ‘n maand en ‘n aand hieroor debateerEenvoudig gestel,in krieket sê hulle”catches win matches”wat sal ons dit in rugby terme noem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.