Skotte wen met SA-boertjies teen Tonga

Scotland se vleuel Kyle Steyn vier sy vierde drie saam met sy spanmaats. (Foto: Neil Hanna / AFP)

Die Skotse rugbyondersteuners het Saterdag op Murrayfield in Edinburg gekraai van lekkerkry oor hul drie “Boere-Skotte”.

Die Skotte het Tonga met 60 – 14 geklop nadat hulle rustyd met 36 – 9 voorgeloop het.

Die regtervleuel, Kyle Steyn, het in slegs sy tweede toets vir Skotland vier drieë gedruk. Die stut Pierre Schoeman, wat op Affies in Pretoria op skool was en ʼn paar jaar gelede vir die SA o. 20-span ʼn drie teen die Skotte se jonges gedruk het, het in sy debuuttoets ook ʼn drie gedruk.

Steyn, wat in Johannesburg gebore is en grootgeword het, se pa Rory het destyds vir Johannesburg Polisie senter gespeel.

Rory was een van oudpresident Nelson Mandela se lyfwagte en hy het ook na die All Blacks omgesien toe hulle in 1995 aan die Wêreldbekertoernooi deelgeneem het.

Oli Kebble, wie se pa Guy vir die Bokke gespeel het, het ook in sy agtste Skotse toets sy eerste drie gedruk.

Steyn is as speler van die wedstryd aangewys en was effe onkant betrap toe hy daarop gewys is dat hy die eerste Skot in 26 jaar is wat vier drieë kon druk nadat Gavin Hastings dit jare gelede ook reggekry het.

Die kragmeting het buite die amptelike toetsvenster geval, wat dit veral vir Tonga baie moeilik gemaak om ʼn span bymekaar te skraap omdat nege van sy topspelers wat in Engeland en Frankryk speel, nie toestemming kon kry om weens klubverpligtinge te speel nie.

Skotland vs. SA

Die Skotte speel nou teen Australië en daarna teen die Springbokke.

Hulle is vol ondernemingsgees en hoewel hul voorspelers nie die Bok-brekers kan ore aansit nie, sal dit dwaas van die Springbokke wees om die Skotte enigsins te onderskat.

Boonop gaan die span met speler soos Stuart Hogg, Duhan van der Merwe, Finn Russel en Jonny Gray (wat almal in Engeland en Frankryk klubrugby speel en nie beskikbaar was nie) die span verder versterk.

En Tonga? Die ou-ou probleem van hoog en gevaarlike duikslae kelder die span steeds.

Saterdag is Aisea Halo met ’n geelkaart afgestuur ná gevaarlike spel en hoe Vaea Vaea op die veld kon bly nadat hy Sam Johnson met die skouer teen die kop getref het, sal net die beamptes weet.

Punte: Skotland 60 (31): Drieë: Rufus McLean (2), Kyle Steyn (4), Pierre Schoeman, George Turner, Nick Haining, Oli Kebble. Doelskoppe: Blair Kinghorn (3), Ross Thomson (2).

Tonga 14 (6): Drie: David Lolohea. Strafdoele: Jaime Faiva (3).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harley Davidson ·

Die goeie spelers wat by ander lande moet gaan speel oor die afskuwelike kwota sisteme in sa rugby wat gebaseer word op die kleur van ‘n speler en nie op meriete nie.

Hondjie ·

Dis as jy op meriete gekies word en nie op n kwota stelsel ni

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.