Snyman wys staal teen Stormers

’n Argieffoto van RG Snyman. (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP)

RG Snyman lyk soos ʼn Noorman.

Ons praat nou nie van die vriendelike karakters in Wiekie die Viking nie, maar veel eerder van een van Ragnar Lodbrok se getroue adjudante.

Gisteraand het hy juis saam met Munster die versterkings van die Stormers se rugbyfort in Kaapstad bestorm.

Die Ierse klub het die wedstryd met 26 – 24 gewen; dit was terselfdertyd ook Steven Kitshoff en kie se eerste nederlaag in maande op hul tuisveld. En Snyman het omtrent vir jou ʼn barshou gespeel.

Die slot – wat 2,06 meter in sy sokkies staan en die skaal op 117 kilogram laat kreun – het ongetwyfeld sy staal in die kragmeting gewys.  Hy het sy man op verdediging gestaan, met sy aangeewerk beïndruk en sy stempel in die lynstane afgedruk.

Snyman in aksie teen die Stormers. (Foto: Hansie Linde)

Graham Rowntree was in sy skik met die Springbok-slot se werkverrigting; veral nadat ʼn kniebesering hom lank langs die veld gehou het.

“RG het ʼn uithalervertoning gelewer en met sy fisieke teenwoordigheid het hy beslis ʼn verskil op die veld gemaak. Hy het ʼn moeilike tyd agter die blad, maar hy is een van ons steunpilare en die spelers het baie respek vir hom,” het die Munster-afrigter gesê.

Snyman het in 2018 sy internasionale buiging vir die Springbokke teen Engeland op Ellispark gemaak en hy het Suid-Afrika al in 23 toetse verteenwoordig. Sy laaste toets was in die eindstryd van die 2019-Wêreldbeker teen die einste Engelsmanne in Japan.

Steven Kitshoff, wat saam met hom op die plaasvervangersbank vir daardie geskiedkundige wedstryd in Jokohama was, is trots op sy mede-Bok se vertoning.

“Hy is ʼn topgehalte speler en hy is stelselmatig weer besig om op alle suiers te vuur. Maar sjoe, hy het beslis ʼn oorlas van homself teen ons gemaak. Hy is my vriend, maar ek het nie nou veel ooghare vir hom nie,” het die Stormers-kaptein geskerts.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mike ·

As n Stormer ondersteuner is ek hartseer maar as n Bok ondersteuner is ek in ekstase dat hierdie yster terug is op die veld. Kan nie wag om hom weer in die groen en goud te sien nie.

SjN ·

Dit gebeur as gekose spelers wat nie op vorm is gebruik word.

Niklaas ·

Ek het een keer op TV gesien hoe hy teen ‘n ander sterk span , hul vleuel wat oppad doellyn toe was , van agter af ingehardloop het. So hy is blitsvinnig ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.