Só vergelyk Nienaber met ander Bok-breiers

Die Springbokke se Jacques Nienaber. Foto: Juan Mabromata/AFP.

In hul laaste twee wedstryde van die jaar het die Springbokke hul ondersteuners ’n rede gegee om weer te glo toe hulle met Italië en Engeland afgereken het.

Danksy Kurt-Lee Arendse, Damian Willemse, Willie le Roux en Manie Libbok se ingryping het die Suid-Afrikaners ook gewys dat hul spel nie net uit skoppe en verdedigingswerk bestaan nie; hulle kan ook goeie drieë druk.

Beurtkrag en duur huispaaiemente beteken dat daar tans nie baie dinge is om oor opgewonde te raak in Suid-Afrika nie en die Springbokke is met elke wedstryd onder kwaai druk om goed te presteer.

Dit is seker vergelykbaar met die strydwa-wedrenne van antieke Rome – jy kan maar voortploeter, maar as jou span wen (hetsy die Rooies, Bloues of Groenes), is jy darem gelukkig!

In sy tweede jaar as die nasionale rugbyafrigter het Jacques Nienaber agt uit 13 wedstryde gewen om met ʼn wenpersentasie van 61% te spog.

Die Springbokke kon vanjaar vir die eerste keer in nege jaar ’n wedstryd weg van die huis teen die Wallabies wen. Foto: Brenton Edwards/AFP.

Van die hoogtepunte sluit natuurlik die triomf op Twickenham in, terwyl die Bokke ook goeie spel teen Nieu-Seeland in Nelspruit en Australië in Sydney opgedis het. Siya Kolisi se span het immers die eerste Bok-groep in nege jaar geword om die Wallabies weg van die huis te klop.

Deur die verloop van die jaar het die Springbokke 370 punte aangeteken en 258 punte afgestaan – seker nie té sleg vir ʼn span wat kwansuis vervelige rugby speel nie.

Tussendeur het die Bokke wedstryde teen Wallis, die All Blacks, Aussies, Iere en Franse verloor. Dan het Rassie Erasmus se twiets, die Elton Jantjies-sage en Handré Pollard en kie se beserings ook dinge interessant gemaak.

Ná die jaareindtoer – waar die Suid-Afrikaners twee van die vier toetse gewen het – het Nienaber erken dat hy tevrede is met die spelers se vordering.

“Ja, ons wenrekord is net 50%, maar dit was beslis een van die lekkerste vier weke saam met die span. Ek is trots op die wyse waarop die span, afrigtersgroep en bestuur saamgewerk het en ons kan beslis hierop voortbou.”

Die 50-jarige afrigter is nou al vir altesaam 26 toetse aan die stuur van die nasionale rugbyspan en sy wenrekord is 61%.

Toegegee, dit is glad nie vergelykbaar met legendes soos Kitch Christie (100%) en Nelie Smith (80%) nie, maar hy is kort op die hakke van Peter de Villiers (62%) en Erasmus (65%). Selfs Jake White se rekord van 66% kan binne trefafstand wees.

In dieselfde asem vertoon hy beter as Harry Viljoen (53%), Rudolph Straeuli (52%), Allister Coetzee (44%) en Carel du Plessis (37%).

En ás die Springbokke volgende jaar weer die Webb Ellis-trofee omhoog hou, is alle swak persentasies en ander vergelykings iets van die verlede.

Vra net vir die All Blacks; hulle sou baie daarvan gehou het om die Wêreldkampioenspan te wees. Maar hulle is nie.

Springbokke se uitslae in 2022 (Suid-Afrika se telling eerste):

32 – 29 teen Wallis (Pretoria)

12 – 13 teen Wallis (Bloemfontein)

30 – 14 teen Wallis (Kaapstad)

26 – 10 teen Nieu-Seeland (Nelspruit)

23 – 35 teen Nieu-Seeland (Johannesburg)

17 – 25 teen Australië (Adelaide)

24 – 8 teen Australië (Sydney)

36 – 20 teen Argentinë (Buenos Aires)

38 – 21 teen Argentinië (Durban)

16 – 19 teen Ierland (Dublin)

26 – 30 teen Frankryk (Marseille)

63 – 21 teen Italië (Genua)

27 – 13 teen Engeland (Londen)

Springbok-afrigters se wenpersentasie:

  1. Kitch Christie: 100% ná 14 toetse
  2. Cecil Moss: 83% ná 12 toetse
  3. Nelie Smith 80% ná 15 toetse
  4. Ian Kirkpatrick: 75% ná 12 toetse
  5. Danie Craven: 73% ná 23 toetse
  6. Nick Mallett: 71% ná 38 toetse
  7. Jake White: 66% ná 54 toetse
  8. Heyneke Meyer: 66% ná 48 toetse
  9. Boy Louw: 66% ná 9 toetse
  10. Rassie Erasmus: 65% ná 26 toetse
  11. Peter de Villiers: 62% ná 48 toetse
  12. Jacques Nienaber: 61% ná 26 toetse
  13. André Markgraaff: 61% ná 13 toetse
  14. Johan Claassen: 59% ná 22 toetse
  15. Harry Viljoen: 53% ná 15 toetse
  16. Rudolph Straueli: 52% ná 23 toetse
  17. Avril Malan: 50% ná 8 toetse
  18. Allister Coetzee: 44% ná 25 toetse
  19. Hennie Muller: 40% ná 15 toetse
  20. Carel du Plessis: 37% ná 8 toetse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Leon ·

12 e uit 20. Glad nie iets om oor huis toe te skryf nie. Selfs Pieter de Villiers (wat baie kritiek ontvang het) het beter gedoen. Definitief nie n opwaartse kurwe

piet ·

Korrek oor Peter de Villiers. Steek glad nie so sleg af by die bestes nie en hy het vir 48 toetse afgerig wat baie is. Ook waarskynlik die Bok-afrigter met die beste wenpersentasie teen die AB’s (van die afrigters wat darem ‘n klomp toetse teen die AB’s gespeel het).

Fran ·

Pieter de Villiers het die beste groep springbokke gekry en hulle het hulleself afgerig. Hy moes beter doen maar hy het nie. So Piet, klim terug in jou kas.

George ·

Nienaber kan nie bo White kom selfs met die hulp van sy pellie Rassie nie. Gaan maak n video oor hoe julle kan verbeter Rassie.

B-Man ·

Volgens my lyk dit eerder asof Nick Mallet en Jake White die bestes ooit is. Hulle het ‘n hoë persentasie en ‘n hoë totaal toetse.

duiweboer ·

Dit is so onnodig dat sulke statistieke die lig Sien. Carel Du Plessis het n nuwe era begin en uit Sy werke het jake white die wereld beker gewen.

vuurvliegie ·

Statistieke is nodig om te sien waar kom jy vandaan en waarheen gaan jy.
Uit wie se werke het Rassie die Wereld beker gewen??

piet ·

Carel ook te min toetse om hom behoorlik te beoordeel. Ons sou definitief meer hardlooprugby gesien het as hy aangebly het. Ek onthou nog daai Aussie toets toe ons hulle so stukkend gehardloop het.

FJ ·

Carel het beslis iets nuuts begin en Nick Mallet het hom opgevolg. Daarom dat baie sê Nick Mallet het sukses behaal, welverdiend, uit wat Carel begin het. Jake White het die span oorgeneem na Roedolf Straeuli, of wat oor was van die span.

chris ·

Hoeveel van die afrigters het aan wereldbekers deelgeneem en wat was die statistieke?

piet ·

John Williams – 20% (net 5 toetse genadiglik); Ian McIntosh – 33% (12 toetse). Gedog Mac sou beter vaar.

Hennie Biebouw ·

Ek is steeds van mening dat Nick Mallett grootliks met Carel Dup se perde geploeg het….

piet ·

Hulle moes beslis vir Carel meer kans gegee het, dinge was net besig om te begin gebeur. Jy’s reg maar Mallett was n goeie afrigter, tegnies baie goed soos Jake.

vuurvliegie ·

Die moderator is maar suur omdat meer as die helfte van die bok ondersteunders nou vir die All Blacks skreeu. Dis seker ‘n swaar groot pil om te sluk.

Republikein in die Wes Kaap ·

Almal is darem 30% of meer. Glad nie sleg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.