Son, see en (hopelik) Blitsbok-sukses

Die Blitsbokke speel om 11:18 in die bekerkwarteindstryd teen Australië. (Foto: Hansie Linde)

Dit mag dalk ʼn geykte sportuitdrukking wees, maar die Blitsbokke sal vandag hul geleenthede met al twee hande moet aangryp as hulle vir die eerste keer in agt jaar met die louere in Kaapstad wil wegstap.

Die Suid-Afrikaners se vertoning op die eerste dag van die sewestoernooi in die Moederstad kan met Katy Perry se Hot N’ Cold-treffer vergelyk word: Die span het goed teen Groot-Brittanje en die VSA vertoon, voordat die momentumtrein deur Ierland ontspoor is.

Selvyn Davids-hulle staan egter steeds ʼn kans om die silwerware omhoog te hou en hulle speel later vanoggend teen Australië in een van die beker-kwarteindstryde.

“Dinge het teen Ierland so ʼn bietjie ontrafel vir ons. Ons is op ons beste wanneer ons die bal in die hand het, maar ons het balbesit op ʼn skinkbord weggegee. Tog wil ek nie nou te veel te veel daaroor tob nie, maar ons kan beslis beter speel,” het Sandile Ngcobo, hoofafrigter, gesê.

Volgens Ngcobo is die Aussies taai teenstanders, maar die span is oorgehaal om hul ondersteuners trots te maak.

“Die toeskouers was uitstekend en hulle het ons baie energie op die veld gegee. Dit sal wonderlik wees as die pawiljoen weer volgepak is, dit sal ons bekerveldtog ʼn definitiewe ʼn hupstoot gee.”

Beker-kwarteindstryd-bepalings:

10:34: Argentinië teen Kanada

10:56: Ierland teen Nieu-Seeland

11:18: Australië teen Suid-Afrika

11:40: Fidji teen Frankryk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.