‘Specmagic’ kan Bokke meer woema gee

Foto: GB Jordaan.

Die Springbokke het gister op hul amptelike Twitter-rekening foto’s van Rosko Specman, Yaw Penxe en Aphelele Fassi gedeel.

“Hoe opwindend sal dit nie wees om die drie spoedvrate in aksie vir die Springbokspan te sien nie?” is onderaan die foto’s gevra.

En ’n tikkie “Specmagic” kan ongetwyfeld vir ’n bykomende pyl in Jacques Nienaber se aanvalskoker sorg.

Op 32-jarige ouderdom is die Blitsbok-ster nog vinnig genoeg om hakskene vir die meeste verdedigers te wys, rats genoeg om hulle te fnuik wanneer hulle dit die minste verwag en wys genoeg om al sy sterk punte doeltreffend tot die voordeel van ’n span te gebruik.

Maak nie saak of dit vir die Pumas, Bulls, Cheetahs, Blitsbokke en – mag ons dit fluister? – Springbokke is nie.

Een van Suid-Afrika se voorste afrigters, die Pumas se Jimmy Stonehouse, het destyds al vir Maroela Media gesê dat Specman goed genoeg is om vir die Springbokke te speel.

Foto: GB Jordaan.

“Rosko se vermoë om gapings te sien en in ’n spasie in te hardloop maak van hom ’n pluspunt vir enige span. Hy gaan selde ‘dood’ met die bal – hy het die vermoë om kontinuïteit te behou met sy flink aangeewerk en goeie skoppies,” het Stonehouse gesê.

Ja, hy is dalk net 1,74 meter lank en weeg ’n rapsie meer as 80 kg; maar Cheslin Kolbe wys gereeld dat grootte gerus opsy vir durf, vasberadenheid en spoed kan staan.

Die uitvoerende hoof van die Mpumalanga Rugby-unie, Marius van Rensburg, was Specman se spanbestuurder in sy dae by die Pumas. En dié vriendelike rugbyman meen dat die blits ongetwyfeld goed genoeg is om vir die Springbokke te speel.

Benewens sy uitstekende werketiek, bereidwilligheid om die span se belange bó sy eie te stel en sy groothartigheid beskik hy oor iets wat enige afrigter se aandag sal trek: Die X-faktor.

“Dit is sy grootste bate – hy kan drieë druk wat ’n mens nie aldag sien nie,” het Van Rensburg gesê.

En moet nie dink dat hy vir punte slegs op die sewesverhoog en vir die sogenaamde kleiner unies sorg nie.

Hy het ook amok in sy tyd by die Loftus Versfeld gemaak – dink maar aan sy drieë teen die Stormers en die Highlanders.

“Dit is die perfekte tyd vir hom om ook vir die Springbokke te speel. Ek weet dit is moeilik want daar is baie goeie vleuels, maar ek dink hy is ewe goed,” het Van Rensburg afgesluit.

Ja, Kolbe en Makazole Mapimpi het die binnebane na die Springboktrui, maar in ’n besige jaar sal hulle nie in elke wedstryd kan speel nie. En wanneer hulle ’n welverdiende blaaskans geniet, kan Rosko Specman sy kans met beide hande aangryp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

RS ·

Hoe moet die mense die game speel met so n klomp goed wat in die wind rondvlieg? Daar moet n dragkode wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.