Spelersuittog: Sal Saru-optrede die gelddrang kan stuit?

SA RUGBY logoDie SA Rugbyunie (Saru) se tyd van stilsit terwyl Suid-Afrika se voorste spelers oorsee gelok word, is klaarblyklik verby.

Dit is hoofsaaklik Frankryk, Japan en Engeland wat die voorste Suid-Afrikaanse spelers, insluitende belowende jonges, weglok. En dit moet end kry, meen Saru.

In Rapport skryf Stephen Nell dat Saru onder meer die moontlikheid ondersoek om die aantal oorsese spelers in die Springbokspan te beperk en dat `n radikale nuwe kontrakteringsmodel en langtermynooreenkomste ondersoek word om die uittog te keer.

In 2014 het die Springbokke se afrigter Heyneke Meyer 14 spelers wat oorsee speel vir die Springbokke se toetse gekies. Daar was kwaai kritiek daarteen, want baie kritici meen die benadering sal spelers nie laat huiwer om kontrakte in die Noordelike Halfrond te sluit waar hulle goed kan verdien en steeds vir die Bokke speel nie.

As die gesprekke wat nou deur Saru gevoer word in dade omgesit word, sal die beperkings op die aantal oorsese spelers wat vir die Springbokke toetsrugby mag speel, eers ná die Wêreldbekertoernooi ingestel word, het Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, aan Rapport gesê.

Of Saru se planne en/of die aantrekkingskrag van die Boktrui in hierdie tyd van kommersialisme genoeg gaan wees om die manne hulle rugby hier te laat bly speel, sal egter gesien moet word. Dit kan selfs die teenoorgestelde effek hê: waar die speler nou `n toets of drie wil speel voordat hulle padgee om groot geld te gaan maak, kan die verpligting om langtermynkontrakte te sluit hulle kopsku maak sodat die paar toetse vir hulle ook minder aanloklik lyk.

Die gedagte om Bokke te kontrakteer is `n goeie. Wat egter mag kwel, is die bedrae wat die spelers gaan eis om hulle vir drie of vier jaar te verbind. Top- Suid-Afrikaanse spelers oorsee verdien in baie gevalle meer as twee keer wat hulle hier in die sak kan steek. Die wisselkoers gaan die grootste vyand van Saru bly met die pond, jen en euro wat eenvoudig vir baie spelers heelwat meer aantrekkingskrag het as `n Boktrui.

Geld, en niks anders nie, is die rede waarom die meer as 600 Suid-Afrikaanse spelers – dit is meer as 40 volle spanne – met gehaltespelers oorsee rugby speel Honderde duisende rande gemiddeld per rugbywedstryd is wat sommige spelers byvoorbeeld in Japan  verdien. Onder hulle is daar `n paar Suid-Afrikaners.

Die aantrekkingskrag om oorsee te gaan speel sal egter benewens die groot geld ook die reg wees om na `n kwalifiserende tydperk toetsrugby vir `n ander land te mag speel – soos ondermeer manne soos Scott Spedding, Rory Kockott, Antonie Claassen, Quintin Geldenhuys, Brad Barritt, Bernard le Roux, Richardt Strauss, Mouritz Botha, DTH van der Merwe en binnekort ook CJ Stander.

Dit is juis `n uitgesproke doelwit van die groot oorsese klubs om spelers te kontrakteer wat nie Bokke is nie omdat dit beteken dat hulle nie sodanige spelers aan SA se toetsspanne hoef af te staan nie. Voeg daarby belastingvoordele, verblyf, `n motor en die moontlikheid om later tog toetsrugby te speel, en Saru se uitdaging is duidelik.

Verdienste aan ons voorste spelers hier en oorsee om hulle vir SA rugby te behou:

Curriebekerspeler met min of geen ervaring van Superrugby
In SA: R500 000-R900 000 per jaar
In Europa: R1.8m-R3m per jaar

Curriebekerspeler met heelwat Superrugby-ervaring:
In SA:
 R1.5m-R2m per jaar
In Europa: R2,5m-R6m per jaar

SA klubspeler in Europa
R600 000 – R1m per jaar

Senior Springbok in Japan:
Meer as R10m per jaar

Senior Springbok in Europa
Meer as R8m per jaar

Senior Springbok in SA
R5m-plus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ettiene Verster ·

Is SARU en Sanzar al besig om World Rugby te konfronteer om beperkings op klubspanne in die buiteland te plaas mbt die aantal spelers wat hulle van buite hul grense mag kontrakteer? So 3 jaar gelede was Frankryk se beste losskakel slegs die 3e beste losskakel in sy klub (Frederick Michalack). Dit kan mos ook nie goed wees vir die Franse se spel nie en ons sien dit al reeds. As hierdie situasie toegelaat word om sonder weerstand voort te gaan, is rugby op die pad na superklubrugby in Europa en Japan. Toetsrugby sal sonder glans wees en die Suidelike halfrond gaan net goeie juniorrugby lewer. Kan mos nie toegelaat word nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.