Springbok- én All Blacks-slotte wat spandeure oop- en toesluit

Eben Etzebeth nadat nóg ʼn speler van die Poemas van hom afspat. Sy slotmaat Pieter-Steph du Toit is by om te ondersteun. (Foto: GB Jordaan)

Suid-Afrika was nog altyd ʼn slotfabriek; só ook Nieu-Seeland.

Dink maar terug aan Johan Claassen, Avril Malan, Frik du Preez, Hennie en Andries Bekker, Louis Moolman, Victor Matfield en Bakkies Botha. Wat van die All Blacks se Colin Meads, Andy Haden en Ian Jones?

Nou trap Eben Etzebeth en Pieter-Steph du Toit in dieselfde spore aan Springbokkant en trek Brodie Retallick en Sam Whitelock die toutjies in ʼn All Blacks-trui.

Was daar al beter slotte of slotkombinasies in toetsrugby (behalwe van die spelers wat hierbo genoem is)?  Was daar al meer vaardige slotte wat kan hardloop, spring, skrum, vang en verdedig?

Ja, die Wallabies-kaptein John Eales was ʼn frats, die Franse het met Benoit Duaga, Walter Spanghero en Olivier Roumat gespog, die Iere se Willie John-McBride was ʼn weergalose leier, die Engelse het ʼn bulhond in Martin Johnson gehad, maar soms was hulle maar manalleen in die woestyn.

In Saterdag se toetswedstryde in die Rugbykampioenskappe het Etzebeth en Du Toit en Whitelock en Retallick uitgetroon.

Etzebeth was ʼn monster teen die Poemas in Durban. Hy het 14 keer met die bal gehardloop,  sewe lynstane gewen en ʼn hele paar aanvallers teruggeduik.

Du Toit was byna nog meer indrukwekkend, want hy het 19 keer verdedig en twee meer as David Pocock, wat tweede op die amptelike Sanzaar-statistieke was, platgetrek, ʼn hele paar lynstane gewen en baie goed geskrum.

Slotte?

Whitelock en Retallick was ewe indrukwekkend in Sydney teen die Wallabies. Hulle het die Aussies heeltemal oorhoops in die lynstane gehad, soos agterspelers rondgehardloop, gehanteer, gesystap, ondersteun, geskrum en verdedig.

Al wat dié viertal nog nie kon doen nie, was om soos Du Preez, Tiny Naude en Eales pale toe te skop.

Dink net hoe bevoorreg ondersteuners is om hulle in aksie te sien, veral ook nog wanneer die Springbokke die All Blacks op 15 September in Wellington en weer op 6 Oktober op Loftus Versfeld pak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

nico k ·

Ek het altyd gedink dat Bakkies en Matfield die ideale slot paar was. ‘n Uitstekende lynstaansprniger en die sterkman wat alles uit sy pad dryf. Ek het gehoop Etsebeth en Andries Bekker sou die opvolgers wees, maar toe vervies Bekker hom en stel nie meer belang om Springbok te speel nie. Daar het ons ‘n man verloor. Du toit is goed, maar bietjie lig vir slot. Ek sal hom op flank speel.

Kraai ·

Nico

Pieter-steph is een kilogram ligter as Eben Etsebeth dit kan hom onmoontlik te lig maak vir n slot.

ANONIEM ·

Nee wat Jantjies moet maar bly by currie beker ons het beslis beter spelers as hy.

JR ·

Ja nee wat ‘n Ellende. Die Ellende is behoorlik Elendig. Ons gaan lekker slae kry teen NZ en tien teen een teen die Elendige Aussies ook verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.