Springbok-stut vir 3 wedstryde geskors

Angus Gardner het op Twickenham vir Thomas du Toit met ’n rooi kaart van die veld gestuur. Foto: Ian Kington/AFP.

Thomas du Toit se rooikaartpad op Twickenham – toe hy vir Luke Cowan-Dickie met sy skouer disnis geloop het – het uiteindelik in ʼn skorsing van drie wedstryde uitgeloop.

ʼn Tugkomitee (bestaande uit twee Skotte en ʼn Ier) het bevind dat die Springbok-stut hom aan roekelose spel skuldig gemaak het.

Volgens ʼn verklaring het Du Toit erken dat sy spel ʼn rooi kaart regverdig het.

Nadat alle beskikbare bewyse en die speler se voorlegging ontleed is, het die komitee bevind dat die Suid-Afrikaner se optrede nie opsetlik was nie, terwyl Cowan-Dickie ook nie ʼn mediese assessering moes ondergaan nie.

Wêreldrugby se regulasies beteken dat ʼn speler vir tot ses weke geskors kan word wanneer hy kontak met ʼn teenstander se kop maak. Die Suid-Afrikaner se goeie dissiplinêre rekord beteken egter dat hy vir net drie wedstryde langs die kantlyn kan wees.

Indien Du Toit boonop ʼn Wêreldrugby-kursus voltooi, sal sy straf met nog ʼn wedstryd verminder word.

Maar soos wat dinge tans staan, sal hy die Sharks se kragmetings teen die Ospreys (Verenigde Rugbykampioenskap), Harlequins (Kampioenebeker) en Bordeaux (Kampioenebeker) misloop.

Cheslin Kolbe word deur Antoine Dupont aarde toe gebring. Die Franse kaptein is hierna met ¤n rooi kaart van die veld gestuur. Foto: Sylvian Thomas/AFP.

Intussen is Antoine Dupont se skorsing van vier weke tot twee weke verminder.

Die Franse ster was vroeër in die sop nadat hy vir Cheslin Kolbe in ʼn lugaanvalstryd hard terug aarde toe gebring het.

ʼn Appèlkomitee het bevind dat Dupont se optrede ʼn laer intreepunt-skorsing regverdig en sy straf is dienooreenkomstig aangepas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Manie ·

Thomas du Toit is in elk geval nie Springbok materiaal nie, hy is op sy beste ‘n skaflike provinsiale stut.

Pieter9 ·

Hy onder presteer nou al vir baie lank – met so ‘n lyf behoort hy amok te kan maak, dit gebeur nie – en hy het verseker nie Cowan-Dickie disnis geloop, soos die berig se nie – gaan kyk maar weer. Slegs plaaslike rugby vir hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.