Stormers nou derde in VRK

DHL Stormers se Neethling Fouche
(Foto: ©INPHO/Luca Sighinolfi via @THESTORMERS/Twitter)

Die Stormers (15 punte) is ná hul oorwinning van 37-20 teen Zebre in die derde plek op die punteleer van die Verenigde Rugbykampioenskap. Die manne van Kaapstad het boonop een wedstryd minder gespeel as die twee voorlopers, Leinster (19 punte) en Ulster (16 punte).

Die Bulle is in die vierde plek met 14 punte en die Leeus vyfde op 13 punte. Die Haaie is op 10 punte in die sewende plek, maar het soos die Stormers een wedstryd minder gespeel.

Die Stormers speel Vrydagaand (20:35) hulle volgende wedstryd teen Ospreys in Swansea. Vir die Leeus is daar ʼn hoë hekkie wat voorlê. Hulle kom Saterdag (14:00) in Johannesburg teen Ulster te staan. Die Haaie speel in Durban gasheer vir die Glasgow Warriors (16:05). Die Bulle sal hulleself vinnig moet regruk, want hulle het self ʼn taai toffie wat wag. Hulle pak Munster Saterdagaand om 20:35 in Limerick.

In die Franse Top-14-liga het Springbok Cheslin Kolbe binne die eerste twee minute van sy wedstryd vir Toulon ʼn drie gaan druk. Dit was sy eerste wedstryd nadat hy in Julie sy kakebeen gebreek het. Hy het die wedstryd op regtervleuel begin in sy span se oorwinning van 47-0 oor Brive.

Paul Abadie van Brive het ʼn rooi kaart gekry nadat hy ʼn gevaarlike duikslag op Kolbe uitgevoer het. Kolbe het geen gevolge daarvan gewys nie, al het hy op sy kop te lande gekom.

Jaco Reinach het ook vir sy span Montpellier ʼn drie gedruk, maar dit kon nie keer dat sy span 13-26 teen Castres verloor nie.

Die Springbok-vrouespan sê hulle het baie geleer in hulle nederlaag van 5-40 teen Frankryk in hulle openingswedstryd by die wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland. Daar was tye wat hulle die Franse ore aangesit het, maar foute op die verdediging het afrigter Stanley Raubenheimer se span duur te staan gekom.

Hy sê sy span het simpel foute gemaak en die momentum, en punte, op ʼn skinkbord vir die Franse gegee.

Die Springbok-vroue se volgende wedstryd is volgende Sondag (6:45) teen Fidji. Hulle het 84-19 teen Engeland verloor in hulle openingswedstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

N ·

En dit met n oorspronklike span en sonder hul springbokke. Sien, dit help nie jy koop lings en regs soos ou Jake nie. Werk en bou aan n span, tot Marcel Coetzee is moeg en gaan nou waai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.