Stroopsoet vir die Bulls, suur vir die Cheetahs

(Foto: GB Jordaan)

Dit was ʼn heuglike dag op Loftus Versfeld, maar ʼn hartseer dag in Bloemfontein.

Die Bulls het ʼn indrukwekkende sege van 59 – 19 oor die Franse span Lyon in die Europese Kampioenebeker-reeks behaal om tot die kwarteindronde deur te dring, maar in Clermont moes daar afskeid van een van die legendes van Suid-Afrikaanse en Vrystaatse rugby, Ruan Pienaar, geneem word.

Clermont het die kragmeting in die Europese Uitdaagbekerreeks met 27 – 22 gewen nadat hulle in ʼn stadium met 27 – 3 voor was.

Die Bulls het reeds vroeg die oorhand oor Lyon gekry en algaande beter gespeel.

Dit was tipiese Blou Bul-rugby soos van ouds, maal en maak sag voor en slaan dan met die agterlyn.

(Foto: GB Jordaan)

Die Bulls se voorhoede, ondanks die onttrekking van die slot Ruan Nortje was kookwater.

Die Bulls het Lyon, wat vinnig begin het, maar wie se stoom opgeraak het, in die vaste fasette geboelie en gemesmeraais.

Agterlangs was veral Embrose Papier en Kurt-Lee Arendse pure Bok en het hulle Lyon grys hare besorg.

Papier is ongetwyfeld een van die beste skrumskakels in die land met sy aangeewerk, uitstekende breekslae en taktiese skopwerk.

Arendse was weer ongelooflik.

Maar een probleem wat die Bulls het, is dat Canan Moodie weer nie oortuig het op senter nie. Hy is boonop met ʼn geel kaart gestraf en Jake White sal beslis ander planne moet maak om te sorg dat die Bok-vleuel nie sy sprankel inboet nie.

(Foto: GB Jordaan)

Puntemakers: Bulls 59 (28). Drieë: Sebastian de Klerk (2), Embrose Papier (2), Marcell Coetzee, Ruan Vermaak, Willie le Roux, David Kriel, Chris Smith. Doelskoppe: Johan Goosen (5), Chris Smith (2).

Lyon 19 (7). Drieë: Martin Page-Relo, strafdrie (7 punte), Thaakir Abrahams. Doelskop: Paddy Jackson.

In Clermont het die 40-jarige Pienaar, wat reeds in 2004 vir die Sharks se Curriebekerspan begin speel het, in 88 toetse vir die Bokke in aksie was en meer as 225 wedstryde vir die Sharks, Cheetahs, Vrystaat, Ulster en Montpellier gespeel het, se spelersloopbaan tot ʼn einde gekom.

Van die ouer garde wat bevoorreg was om sy pa, Gysie, in die 1970’s en 1980’s vir die Vrystaat te sien kringe om sy teenstanders te hardloop, sal ook met groot genoegdoening aan Ruan Pienaar dink.

Ruan Pienaar was meer bedeesd as Gysie, maar ʼn briljante taktikus wat die spel kon lees en dikteer.

As taktiese skopper het hy nie sy gelyke gehad nie.

Puntemakers: Clermont 27 (22) Drieë: Joris Jurand, Bautista Delguy, Etienne Fourcade, Baptiste Jauneau. Doelskoppe: Anthony Belleau (2). Strafdoel: Belleau

Cheetahs 22 (3) Drieë: Siba Qoma (2), Tapiwa Mafura. Doelskoppe: Ruan Pienaar (2). Strafdoel: Pienaar.

(Foto: GB Jordaan)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.