Tigers nou Pollard-loos teen Sharks

Die Springbokke se Handré Pollard. (Foto: Phill Magakoe/AFP.)

Die Leicester Tigers moes inderhaas ʼn plaasvervanger vir Handré Pollard vir vandag se Premierliga-halfeindstryd teen die Sale Sharks kry.

“Handré Pollard is uit met ʼn besering,” het die Tigers vanmiddag in ʼn amptelike verklaring gesê.

Jimmy Gopperth sal die Springbok-speler se losskakelskoene nou volstaan, terwyl Charlie Atkinson sy pad na die plaasvervangersbank gevind het.

Die presiese omvang van Pollard se besering is nog nie bekend nie en met Siya Kolisi ook op die krukkelys, was hy een van die kandidate om die Springbok-kapteinskapleisels vas te vat.

Die losskakel het juis vroeër vanjaar uithalerspel vir die Tigers gelewer nadat hy van sy kniebesering herstel het.

Hy het onder meer 19 punte in sy span se sege teen die Bristol Bears aangeteken.

“Ek het ʼn moeilike vier jaar agter die blad en beserings het gesorg dat dinge nooit werklik aan die gang wou kom nie. Maar dit is baie lekker om net weer met bestendigheid en ritme te speel,” het Pollard destyds in ʼn onderhoud met die Tigers se amptelike webblad gesê.

“Ek geniet tans my rugby. Ek dink trouens dat dit die eerste keer in jare is dat ek dit só baie geniet. Dinge verloop tans goed op die veld, maar ek weet dat daar nog harde werk voorlê.”

Richard Wigglesworth, Leicester se tydelike hoofafrigter, het die nommertienspeler se lof besing.

“Handré is alles wat ʼn mens van ʼn losskakel van wêreldgehalte verwag. Wanneer hy praat, luister die spelers. Hy het uitstekende spel teen Bristol opgedis terwyl hy al vir weke bestendige spel lewer,” het Wigglesworth gesê.

Ander Suid-Afrikaners – soos Jasper Wiese en Hanro Liebenberg – sal steeds vandag vir die Tigers uitdraf.

Leicester Tigers: Freddie Steward (heelagter), Anthony Watson (regtervleuel), Matt Scott (buitesenter), Dan Kelly (binnesenter), Harry Potter (linkervleuel), Jimmy Gopperth (losskakel), Ben Youngs (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Tommy Reffell (flank), Hanro Liebenberg (flank), Cameron Henderson (slot), George Martin (slot), Dan Cole (stut), Julian Montoya (haker en kaptein) en Tom West. Plaasvervangers: Charlie Clare, James Cronin, Joe Heyes, Harry Wells, Olly Cracknell, Jack van Poortvliet, Charlie Atkinson en Guy Porter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Sonder ‘n beseringsvrye Pollard gaan Suid Afrika sukkel om die wêreldbeker te verdedig in Frankryk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.