Toeskouers kan rugbywedstryde in Nieu-Seeland bywoon

Via die Blues se amptelike Twitter-rekening.

Nieu-Seeland se eerste minister, Jacinda Ardern, het aangekondig dat die land se staat van inperking om middernag na vlak 1 sal skuif.

Die nuwe regulasies beteken dat die afskoptye vir die openingswedstryde van die Superrugby Aotearoa-reeks effens sal verander. Maar die grootste nuus – waarskynlik vanuit ’n gesondheidsperspektief – is dat toeskouers by die wedstryde toegelaat sal word.

Nieu-Seeland Rugby (NZR) het bevestig dat daar geen beperkings op die aantal toeskouers sal wees wanneer die Highlanders en die Chiefs mekaar in Dunedin pak nie. Dieselfde reël is ook van toepassing op die Blues/Hurricanes-tweestryd op Sondag.

“Ons is ongelooflik trots en dankbaar dat die reeks die eerste professionele sportkompetisie ter wêreld is waar spanne weer voor toeskouers kan speel. Dit gaan baie spesiaal en uniek wees,” het NZR se uitvoerende hoof, Mark Robinson, gesê.

“Die skuif na Vlak 1 beteken dat ons spanne nou soos altyd vir hul wedstryde kan voorberei,” het NZR se Chris Lendrum gesê.

Al vyf spanne wat aan die reeks deelneem – die Crusaders, Hurricanes, Highlanders, Blues en Chiefs – sal van kaartjies met QR-kodes gebruik maak sodat moontlike Covid-19-gevalle makliker opgespoor kan word.

Die Blues het vandag met kaartjieverkope begin; kinders se toegang is gratis. Hulle verwag dat die stadion stampvol sal wees, veral omdat Beauden Barrett sy buiging vir die Aucklandse span kan maak.

“Die wedstryd sal nie net vir die franchise nie, maar sommer vir die hele streek ’n lekker hupstoot gee. Die afgelope ruk was ’n moeilike tyd vir almal en dit sal wonderlik wees om rugby van wêreldgehalte op die spyskaart te hê, het die Blues se uitvoerende hoof, Andrew Hore, gesê.

Die wedstryde sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

En hiekom moet ons kyk? Stel glad nie belang nie. Hulle stel in elke geval net belang in die geld wat SuperSport hulle betaal. Ek kan nie sien hoekom ons nie heeltemal uit hulle reeks onttrek nie en in die noorde gaan speel nie. Dit is in elke geval in ons tydsone. Hulle is ook van die redes dat ons sport so in sy kanon is met hulle boikotte en transformasie.

Shady ·

Anel jy weet nie waavan jy praat nie. Gaan lekker wees om vir n slag weer rugby te kyk. Ek kan nie wag nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.