Toetsrugby: Engeland kry hou in teen Wallabies

Engeland teen Australië in ‘n vorige wedstryd (Foto: Trevor Collens/AFP)

Daar kon kwalik vir ʼn beter draaiboek gevra word nadat eers Ierland en toe ook Engeland gesorg het dat hul toetsreekse onderskeidelik teen die All Blacks en Wallabies op ʼn meskant gebalanseer is.

Nadat Ierland Saterdagoggend in Dunedin die tweede toets teen die All Blacks met 23-12 gewen om die reeks op 1-1 gelyk te laat trek, het Engeland in Brisbane die tweede toets teen die Wallabies met 25-17 gewen om hulle reeks ook met 1-1 gelykop te maak.

Nou gaan alles afhang van komende Saterdag se beslissende derde toetse in Wellington en Sydney om te bepaal of die spogregte aan die Noordelike of Suidelike Halfrond behoort.

Engeland het verwoestend begin en was met 19-0 voor, waarvan die Wallabies nie kon herstel nie.

ʼn Rits beserings het die Wallabies verdere probleme besorg.

Maar waar die Engelse verlede Saterdag in Perth ook voor was, maar toe in hul doppe gekruip het, het hulle dié keer kop gehou.

Dit het alles begin omdat die losskakel Marcus Smith en die binnesenter Owen Farrell baie beter gekombineer het en kalmte gebring het. Dit het Farrell in staat gestel om 20 punte aan te teken om sy span op die wenpad te plaas.

Dan het die Engelse voorspelers, ondanks die harsingskudding wat die vaardige slot Maro Itoje opgedoen het, genoeg besit verseker om die Wallabies op die agtervoet te hou.

Met Billy Vunipola, Jonny Hill, Courtney Lawes en Sam Underhill op die voorvoet, was die agterlyn onder veel minder druk.

Boonop die Engelse plaasvervangersbank, netsoos dié van die Springbokke se sogenaamde ‘Bomb Squad’ nuwe lewe in die span geblaas en kon hulle enduit op alle suiers vuur.

Die Wallabies het probeer veg, maar hul gebrek aan diepte is vanweë die rits beserings onder ʼn vergrootglas.

Tog was daar opflikkeringe deur Tom Wright en Samu Kerevi.

Punte: Engeland 25 (19): Drie: Billy Vunipola. Doelskop: Owen Farrell. Strafdoele: Farrell (6).

Australië 17 (9): Drieë: Taniela Tupou, Samu Kerevi. Doelskoppe: Noah Lolesio (2). Strafdoel: Lolesio.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.