Tugkomitee skors Pieter-Steph vir drie weke

Foto: GB Jordaan.

ʼn Tugkomitee, bestaande uit twee Australiërs en ʼn Skot, het Pieter-Steph du Toit vir drie weke geskors nadat hy verlede week koppe met Jonathan Danty in Marseille gestamp het.

Wayne Barnes het die sterlosvoorspeler vroeg in die eerste helfte met ʼn rooi kaart van die veld gestuur en die Springbokke het uitendelik die wedstryd met 30 – 26 teen Frankryk verloor.

Hoewel Du Toit aangevoer het dat sy optrede nie ʼn rooi kaart geregverdig het nie, het die komitee andersins beslis.

“Nadat alle beskikbare bewyse en die speler se voorlegging ontleed is, het die tugkomitee bevind dat die speler hom aan gemene spel skuldig gemaak het wat die kaart geregverdig het,” het Stephen Hardy, tugkomiteevoorsitter, in ʼn verklaring gesê.

Hoewel die Suid-Afrikaner se optrede as roekeloos bestempel word, is daar bevind dat dit nie doelbewus was nie terwyl sy goeie dissiplinêre rekord ook in sy guns getel het.

Volgens die verklaring is alle versagtende faktore in ag geneem en die intreepunt-skorsing is van ses weke na drie weke verminder. Indien Du Toit boonop ʼn Wêreldrugby-kursus voltooi, sal sy straf met nog ʼn wedstryd verminder word.

Die Springbok sal egter steeds sy span se wedstryde teen Italië en Engeland misloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Leon ·

Onnodig geskors. Hy het dit nie opsetlik gedoen nie maar deur ander spelers (baie dom) in die losskrum ingestamp

George ·

Dit was dom, maar die reel is n reel, volgende week stamp hul mekaar in aspris en speel die kaart.

Andrew ·

Soos die SA ondersteuners tekere gegaan het was hy dan onskuldig. Sy posisie was verkeerd en sy oog van die man af. Die ou wat saam hom ingedryf het, het hom ondersteun en nie gestamp nie, hy was klaar op momentum en in sy lae posisie en moes nie induik nie. Mense is baie emotioneel , moontlik te danke aan Rassie.

George ·

Kwagga het hom duidelik gestamp. Dis n rooi, dis skorsing werd.

JN ·

So wie in jou reels moes dan die rooi kaart kry? Die stamper of die een wat in die opponent in gestamp is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.