Tugkomitee tik Argentyn oor vingers

Grant Williams word van die veld geneem. (Foto: Wikus de Wet/AFP.)

Juan Cruz Mallia, die Argentynse heelagter, is vir twee weke geskors nadat hy Grant Williams vroeg in die Ellispark-toets tussen die Springbokke en Argentinië disnis geloop het.

Die aksiebelaaide toets in Johannesburg het op die slegste manier moontlik begin toe die opwindende Williams binne 11 sekondes ná die aanvang van die tweestryd ʼn baie harde stamp teen die kop gekry het.

Die Sharks-speler het die bal naby sy doellyn weggeskop, maar ʼn vlieënde Cruz Mallia het teen hom met sy heup gebots en hy is ʼn rukkie later met ʼn draagbaar van die veld geneem.

Springbok-afrigter Jacques Nienaber het ná afloop van die wedstryd bevestig dat die 27-jarige skrumskakel vir minstens twee weke langs die kantlyn sal wees.

Skeidsregter Andrew Brace het die voorval as ʼn “rugby-insident” bestempel, maar die Argentynse speler moes vandeesweek voor ʼn tugkomitee verskyn. Reël 9.11 stipuleer dat ʼn speler hom nie aan roekelose en gevaarlike spel mag skuldig maak nie.

ʼn Sanzaar-tugkomitee, wat deur Nigel Hampton (voorsitter), David Croft en Ofisa Tonu’u gelei is, het bevind dat ʼn skorsing van twee weke – tot en met 18 Augustus – geregverdig is.

“Die tugkomitee het bevind dat die voorval van vuilspel roekeloos en gevaarlik was, terwyl dit ook ʼn noemenswaardige invloed op die slagoffer-speler gehad het,” het Hampton in sy amptelike verklaring gesê.

Volgens Hampton is alle bydraende faktore oorweeg en daar is besluit dat ʼn middelvlak-skorsing in wanverhouding met die speler se oortreding sou wees en dat ʼn laevlak-intreepuntskorsing van twee weke meer toepaslik is.

Die Springbokke speel Saterdag in ʼn Wêreldbeker-voorbereidingswedstryd teen Argentinië in Buenos Aires. Die wedstryd begin om 21:10 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kirst ·

Maar die skeidsregter kom niks oor nie. Ek hoop nie hy blaas in die RWB nie.

George ·

Die uitspraak gaan tegnies teen die vrae wat die ref moet vra. Was hy in n realistiese posisie, ja. Was hy in n posisie waar hy die bal kon speel, ja.

Boksombende ·

So keelvol vir die bevooroordeelde manier hoe Suid Afrikaanse rygby spelers hanteer word in vergelyking met die res van die wereld.

George ·

Ag asb. Eks n bok maar eks al so moeg vir ondersteuners met die jannie kry my jammer houding.

Kobus ·

Wat is hierdie anders as CJ Stander se destydse oortreding?
Wat is die TMO se rol wanneer dit by 50/50 beslissings kom? Die speler het nie die bal afgestorm nie. Hy het doelbewus vir Williams gegaan. Waarom het Duane nie aangedring op TMO interaksie nie? Soos ek die reel verstaan is dit ‘n rooikaart en klaar. Is hier kundiges wat my kan reghelp asb

George ·

Unlucky, soos die raad en ander refs ook uitgewys het, was dit wettige posisie gewees en die kan dat hul anders na die reel kyk laat gebeur. Vinnig herstel yster!

Koos 100 ·

Ek het nie die wedstryd gesien nie, maar hier is weereens bewys hoe onkonsekwent die wedstryd beamptes kan wees. Die 4 op en langs die veld sê dis rugby, 3 ander sê nee, dis vuil spel! SA kaptein bevraagteken nie die besluit nie, en aanvaar so dat dit rugby is. Lyk my as jy deesdae ‘n opponent op die veld laat seerkry, al is dit binne die reëls, het jy moeilikheid. My aarde mens, hoekom gee jy nie vir albei spanne ‘n bal nie?!!!

JohanR ·

Selfs ‘n blinde bobbejaan kon sien die eerste ding wat uit die sak moes getrek gewees het is ‘n rooi kaart. As dit Willie le Roux was dan was die daddelik af, en vir 4 weke geskors. Moet iemand eers op ‘n veld dood gaan of vermink word, voordat skeidregters wakker word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.